Agter van links staan Dillon Saunders, John Steenberg en Jude Engelbrecht. Voor is Revano Visagie en Zain-dene van Rooyen. Dié groepie is vir die Wes-Kaapse bofbalspan gekies. Jade Engelbrecht, Jude se broer, is ook as lid van die span aangewys, maar was afwesig toe die foto geneem is.Foto: Jana Scheepers


Ses inwoners van Saliestraat in Riverview se drome is die week van 13 Februarie verwesenlik toe die nuus gebreek het dat al dié inwoners vir die Wes-Kaapse bofbalspan, wat uit alle ouderdomme bestaan, gekies is.

Hierdie ses inwoners is almal laer- en hoërskoolleerders sowel as volwassenes tot die ouderdom van 19.

John Steenberg (19), Dillon Saunders (gr. 11), Jude en Jade Engelbrecht (onderskeidelik gr. 11 en gr. 9), Revano Visagie (gr. 5) en Zain-dene van Rooyen (gr. 5) is oorspronklik van Worcester en koester al van ’n jong ouderdom af ’n liefde vir bofbal nadat hulle by hul plaaslike bofbalklubs in die gebied, waaronder Riverview en Roodewal, aangesluit het.

Hierdie inwoners is ook almal in plaaslike skole, waarondewr Esselenpark Senior Sekondêre Skool, die Hoërskool Breërivier, Erika Primêre Skool en Riverview Primêre Skool.

John is ’n oudleerder van die Hoërskool Breërivier nadat hy in 2022 gematrikuleer het, en is tans ’n afrigter by die Worcester Strikers- bof- en sagtebal-klub.

Volgens Lestine Engelbrecht, Jude en Jade se ma, is die Saliestraat-bofbalspelers binnekort op pad na Gauteng, waar hulle van 1 tot 11 April aan die Suid-Afrikaanse nasionale bofbalkampioenskap in Boksburg sal deelneem.

Lestine sê die families van hierdie ses Worcesteriete sal hul sente behoorlik moet tel aangesien dit naelskraaps gaan.

“Om elke kind [na die kampioenskap] te stuur, kos R6 300,” het Lestine gesê en verduidelik dit sal haar dubbeld die prys kos omdat sy twee bofballiefhebbers grootmaak.

“Die meeste van die ouens [bofbalspelers] het enkelouers,” het Lestine verder uitgebrei en die gemeenskap terselfdertyd om hulp gevra weens die groot finansiële uitdaging wat hierdie geleentheid bring.

Volgens die Saliestraat-bofbalspelers is hulle al van jongs af verlief of dié sportsoort en almal is opgewonde oor die Gautengse avontuur wat voorlê.

Die spelers is gereeld op die veld te sien waar hulle een keer per week in Kaapstad saam met die Wes-Kaapse provinsiale bofbalspan en ook saam met plaaslike klubs oefen. . Kontak Lestine by 084 347 1159 vir nog inligting oor hierdie sportsterre of vir navrae oor skenkings. Alle geld wat geskenk word, sal gelykop tussen die ses leerders verdeel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article