Twee Worcesteriete gaan Suid-Afrika se universiteitspan verteenwoordig by die Wêreld-universiteitspele in Chengdu, China van 28 Julie tot 8 Augustus.
Rogail Joseph (23) en Francois Prinsloo (22), albei oudleerders van Worcester Gimnasium, is gekies om die reënboognasie te verteenwoordig in twee verskillende atletiek-items.
Volgens Joseph, wat tans haar graad in afrigtingswetenskap voltooi aan die Universiteit van Noord-Wes, is sy gekies vir die Suid-Afrikaanse span nadat sy aan die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap in Maart in die Vrystaat deelgeneem het.
Sy het in ’n tyd van 58 sekondes die 400 m hekkies-nommer voltooi, dieselfde nommer waaraan sy ook gaan deelneem by die spele in China, en reeds vir etlike jare aan skaaf en werskaf.
“Ek het met atletiek op laerskool begin in graad sewe toe Rodney Booysen my daaraan bekend gestel het,” volgens Joseph.
Rodney Booysen is ’n bekende atletiekafrigter in Worcester, asook adjunkhoof by Riverview Primêre Skool, wat Joseph se “fondasie in atletiek gelê het”, volgens haar.
Joseph oefen reeds vir maande om aan dié spele deel te neem en volg ’n vyfdae-oefenprogram wat verdeel word in tyd op die atletiekbaan en in die gimnasium.
“Die gim-gedeelte is definitief my gunsteling,” het Joseph gesê, wat verduidelik dit het haar ’n welverdiende blaaskans gee van die harde kardio-werk op die baan.
“My droom is om eendag aan die Olimpiese Spele deel te neem,” het Joseph gesê, en nederig verduidelik dat dié droom nie té onbereikbaar is nie, weens haar tyd wat sy tans slegs met twee sekondes moet verbeter om die afsnytyd van 54 sekondes te haal.
Joseph raai ander atlete aan wat dieselfde sukses as sy wil bereik om “dissipline” te handhaaf, “hard te werk” en te “glo” dat dit gedoen kan word.
Prinsloo is nóg ’n talentvolle Worcesteriet wat aan die spele gaan deelneem, en Suid-Afrika in diskus gaan verteenwoordig.
“Ek het in graad vier met diskus begin. Ek het die ouer kinders gesien diskus gooi, en gedink dit lyk cool, toe vra ek vir my pa of hy my kan help,” het hy telefonies verduidelik.
Min wetend dat Prinsloo se pa óók ’n ywerige veldatleet was, het dié twee klippe in hul tuin opgetel waar Prinsloo se pa dan vir sy seun in ’n nabye veld gewys het presies hoe dit gedoen word.
Gedurende die res van Prinsloo se hoërskoolloopbaan het hy altyd sy pa se afrigtingstegnieke toegepas terwyl hy ook gebruik gemaak het van ander afrigting.
“Ek was altyd sportief, en altyd ’n vinnige laaitie,” volgens Prinsloo, en het as gevolg van die talent verskeie atletiekspanne gehaal en selfs ’n sportbeurs aan die universiteit van South Alabama losgeslaan, waar hy tans biologie studeer.
“My droom is om die Olimpiese span te haal en volgende jaar aan die Olimpiese Spele deel te neem [in Frankryk],” volgens Prinsloo.
Tans gooi Prinsloo ’n afstand van 62 m, wat slegs twee meter kort is van die Olimpiese span se afstand van 64 meter.
Hy het drie sibbes, en sy ouers woon steeds in Worcester.
Die oorhoofse kostes van Joseph en Prinsloo se maand lange avontuur in China word gedek deur die Suid-Afrikaanse spanbestuur, maar sakgeld is die Worcesteriete se verantwoordelikheid. Indien ’n geldelike donasie gemaak kan word, bel Joseph by 082 660 0246. Prinsloo is by francois.otieno@gmail.com.





