Henry “Mossie” Henderson (82).


Henry “Mossie” Henderson (82), ’n legendariese Worcesteriet, het op 15 April sy laaste asem uitgeblaas en is op 21 April ter ruste gelê toe ’n diens by die Worcester Verenigde Kerk in Kerkstraat gehou is.

Volgens Christopher Henderson is sy pa aan natuurlike oorsake oorlede, terwyl James, sy middelste seun, verduidelik het dat hy veras is.

Mossie, soos talle Worcesteriete hom geken het, het vir 35 jaar by die Breedevallei-munisipaliteit as ’n siviele ingenieur gewerk en ook by die Hoërskool Worcester, oftewel Worcester Gimnasium, soos dit vandag bekendstaan, diep spore getrap.

Hier was hy deel van die skool se krieketafrigting, het James verder telefonies aan die Standard verduidelik.

Volgens Christopher “Kiffie” Henderson, Mossie se oudste seun, en James, was hul pa “ongelooflik lief vir sy drie kinders, en hy was ook intelligent, lojaal, en hardwerkend”.

Kiffie het ook tong in die kies verduidelik hoewel sy pa lojaal en slim was, was hy ook “reguit,” en ’n mense het presies geweet waar hulle met hom staan.

Buiten die feit dat Mossie alom bekend was in die dorp, waar hy en sy vrou Susan hul drie seuns (Christopher, James en Claude) grootgemaak het, was Mossie ook ’n kranige sportman, met ’n liefde vir veral krieket.

Claude, Mossie se jongste seun, het sy passie vir krieket, wat sy pa onder hom gekweek het, verder gevat en in 2000 en 2001 vir die Protea-krieketspan gespeel. Hy is tans ’n direkteur van ’n krieketklub in Engeland en Wallis.

Volgens James het sy pa, saam met Jannie Gerber, ’n oud-onderwyser by die Hoërskool Worcester, in die 1980’s by die skool se krieketafdeling gewerk toe al drie sy seuns ’n liefde vir dié sport gehad het en hul pa hulle wou ondersteun. Mossie se hoofdoel was om die skool in die super-liga te kry, wat beteken het die skool teen groot name sou speel soos Paarl Gimnasium en Boishaai sowel as Paul Roos Gimnasium en die Hoër Landbouskool Boland speel.

Hy het hierdie mikpunt behaal, en die Hoërskool Worcester asook Mossie se drie seuns kon teen die groot sportskole in die Boland speel.

Een vereiste om deel van die super-liga te wees, was om ’n behoorlike kolfblad te hê waarop geoefen kan word en waar ligawedstryde gespeel kan word, waarin Mossie ook ’n hand gehad het.

Worcester Gimnasium het Mossie op sy Facebook-blad vereer vir sy bydrae tot dié skoolgebou, en geskryf hy het “diep spore in die skool se krieket-geskiedenis getrap, en in 1984 ’n groot rol vervul in die totstandkoming van die skool se krieketkolfblad en die skool se deelname aan die super-liga”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article