Ulrich Pool, ’n inwoner van Worcester, het Dinsdag (13 Desember) sy 250ste bloedskenking gevier by die plaaslike bloedbank in Napierstraat. Pool skenk vanaf 1976 kwartaalliks bloed.
Volgens Pool skenk hy op ’n gereelde basis bloed, om terug te ploeg in die gemeenskap en om iets te doen vir sy medemens.
“Ek het al die jare in Worcester geskenk sedert ek hierheen teruggetrek na my weermagdae en studiejare op Stellenbosch.”
Hy het 46 jaar gelede hier sy eie tuiste geskep om aan te sluit by die familie besigheid.
’n Interessante staaltjie wat Pool deel is dat hy eers vreesbevange was vir die gedagte van bloedskenk en het in sy weermag dae aan die Weskus gevlug as die bloeddienste se motor by die basis inry.
“Ek het een keer selfs ’n weermag-motor gesteel en weggery van die bloeddienste af,” vertel Pool. Hy was later gestraf ook vir hiérdie waaghalsige daad.
Pool vertel dat hy eendag ’n boodskap van die Here gekry het en geweet hy moet daarna luister. Hy het besef hy moet en wil sy medemens help en het eensklaps sy vrees oorkom.
“’n Boodskap wat ek graag wil oordra aan ander is dat mense tyd moet maak vir dit waarvoor jy ’n passie het, en daardeur ander aan te spoor om dieselfde te doen,” verduidelik hy.
Verder vertel hy aan Standard dat bloedskenk ’n baie eenvoudige en pynlose manier is om werklikwaar mense se lewens te red.
“Bloed word elke dag oorgedra in hospitale aan pasiënte in nood, en word nie net vir trauma en padongelukke gebruik nie, maar ook vir operasies, tydens bevalling, en vir pasiënte wat aan siektes ly soos kanker en bloedsiektes,” volgens Marike Gevers, skakelbeampte van die Wes-Kaapse bloeddiens, wat ook verduidelik dat daar tans ’n tekort is aan O- A+, en B+ bloedgroepe.
Die bloeddiens het kantore op Worcester in Napierstraat 26 wat Dinsdae van 10:00 tot 19:45 oop is, en Vrydae van 10:00 tot 15:00. Alternatiewelik, kan die bloeddienste se webtuiste ook besoek word op www.wcbs.org.za om dagklinieke te besoek.





