’n Geliefde kat van die Esterhuizen-gesin, genaamd Gummy. Gummy, is nie weens Two Step dood nie, maar weens ouderdom.

Credit: SYSTEM

Inwoners van Kerkstraat in Worcester sit met die hande in die hare nadat talle katte in dié woonbuurt sedert Desember 2022 na bewering vergiftig is.

Willem Esterhuyzen, ’n inwoner van Worcester wat in laer-Kerkstraat woon, het Standard besoek en gesê sewe katte is sedert Desember tot nou óf vergiftig óf het verdwyn.

Volgens Esterhuyzen is sy bure se twee katte beide deur middel van die onwettige gif Aldikarb, wat as Two Step bekend is, vergiftig.

Die swart korrelvormige gif is ’n landbougifstof wat onder streng toesig in die boerderybedryf as plaagbestryding gebruik word, maar is deesdae op die onwettige mark beskikbaar waar dit maklik toeganklik is.

Esterhuyzen het gesê hy verneem die oortreder is iemand in die buurt “wat nie van katte hou nie”.

Hy het ook gesê dit is die eerste keer wat so iets in die buurt gebeur vandat hy sedrt 2008 daar woon.

Volgens dié katte-liefhebber wil hy bloot bewusmaking onder Worcester se inwoners skep.

Volgens ’n plaaslike veearts in die dorp, Gerhard de Wet, sien hy nie ’n toename in die gebruik van Two Step nie en sê dit is merendeels ’n soort gif wat in die 1990’s gebruik is.

Volgens hom is die gif nie meer vrylik beskikbaar nie.

De Wet sê diere-eienaars besoek hom nie baie wanneer gif ingeneem is nie, omdat die dier baie vinnig vrek na die gif ingeneem is.

Volgens De Wet is die gebruik en verspreiding van gif in diere gewoonlik die werk van een mens wat ’n “wrok” koester oor die eienaar van die dier of wat nie van daardie spesifieke diere hou nie, hetsy dit honde of katte is.

Die Benoni City Times, wat in 2019 ook oor die gif geskryf het, dui die naam “Two Step” op die reaksie van die gif, wat insluit wanneer die gif ingeneem word, die uitwerking daarvan onmiddellik gevoel word, en die dood van ’n dier binne twee treë kan veroorsaak.

Simptome van dié gif sluit in:. vinnige spierbewings,. oormatige speekselafskeiding,. stadige hartklop,. stuiptrekkings gevolg deur braking,. moeilike asemhaling en. diarree.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article