Die 32-jarige Angelo September van Worcester se lewe het tragies tot ’n einde gekom toe hy en vriend verlede week in ’n botsing betrokke was in Gauteng.
September ’n boorling van Ashton en wie in 2014 ’n volwaardige Worcesteriet geword het, is op Donderdag 6 Oktober dood toe die motor waarin hy en ’n vriend gery het op die N14 naby Krugersdorp, gerol het en toe in ’n boom gebots het.
Sy vriend, Mario Payne (29) wie oorspronklik van Bonnievale is, verduidelik aan Standard dat die ongeluk baie vinnig gebeur het en dat die botsing steeds by hom spook.
“Angelo het by my kom kuier vir ’n paar weke om werk hierdie kant te soek. Hy was sedert einde Julie by my. Ek is al so drie jaar hier en wou hom help om werk te kry nadat sy vorige werk nie uitgewerk het. Ons het die aand sowat 22:00 se kant vanaf Pretoria gery na my huis in Krugersdorp toe ek beheer oor die kar verloor het. Ons het gerol en die volgende oomblik het ek net ’n harde slag gehoor. Alles het soos petrol geruik en dit was eweskielik donker.”
September se grootmaak ma, Gwendoline Stoffels, is dieselfde aand nog deur polisie gekontak en is die nuus meegedeel dat Angelo op slag dood is.
“Ek het nooit verwag om so ’n oproep te kry nie. Ek was nou by my huis (in Ceres) en moes dadelik gaan sit het. Die nuus het my teveel geskok. Hy was so ’n saggeaarde mens en hy was lief vir sy familie,” vertel sy tranerig.
Payne het ook aan Standard vertel dat hyself net sy arm beseer het, maar sy vriend se afsterwe hom steeds met soveel vrae laat.
“Hoe kan ek lewendig uit die voertuig klim met amper geen skrapies nie en my vriend is dood? Dit is nie regverdig nie. Hy was ’n yster. Hy was ’n vriend soos min.”
Volgens verslae blyk dit of September ’n hou op die kop weg het en as gevolg van inwendige bloeding toe beswyk het.
“Angelo het gesukkel met werk en wou net beter vir homself gaan soek. Ek het dit vir hom gegun, maar ek het geweet ek moes hom hier probeer hou. Werk is net so skaars en hy was regtig opgewonde om te kon gaan, maar toe draai dit so uit. Ek sal hom altyd mis,” het Stoffels bygevoeg.
September sal egter in Gauteng veras word en sy oorskot sal saam met Payne na Worcester kom sodra hulle ’n datum vasgemaak het.
“Ek wil dit graag vir tannie Gwen neem. Dit is my plig. Ons het reeds gepraat oor waar ons dit moontlik kan gaan strooi.”





