’n Voormalige leerder van Worcester Senior Sekondêre Skool en geliefde Worcesteriet, Ashlon Thomas, se goeie akteurspel in die rolprent Sodium Day strek ver, só ver dat dit te sien is op Netflix waar dit reeds onder die top-10 val.

Ashlon het in 2013 gematrikuleer, waarna hy sy liefde vir toneelspel voortgesit en ’n graad aan City Varsity in 2016 voltooi het.

Volgens Ashlon het hy reeds op 16-jarige ouderdom geweet hy wil drama sy beroep maak toe hy die prys vir beste akteur gewen het by ’n skole-toneelspelkompetisie in Montagu.

Sodium Day speel af op die Kaapse Vlakte waar ’n matriekklas die gevare van hierdie wisselvallige gebied navigeer.

Ashlon speel die hoofrol, en vertolk die karakter Bryan, of te wel “Blah Blah”, wat ’n prefek is.

Die rolprent is reeds in 2018 vrygestel by die Kaapse Internasionale Filmfees toe Ashlon en sy mede-City Varsity-klasmaats ingeskryf het vir die filmfees en ’n finansiële belegging losgeslaan het om die film uit te brei en sodoende nuwe hoogtes te bereik.

Daarna was Sodium Day te sien in rolprentteaters oor Suid-Afrika heen en in April 2022 is dit op Netflix vrygestel.

Volgens Ashlon het die rolprent met die hulp van sy kollega’s, asook professionele mense in die drama- en toneelbedryf, tot ’n suksesstorie ontwikkel.

Ashlon studeer tans besigheidsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch se besigheidskool wat hom die nodige vaardighede sal verskaf om sy eie toneelspelsentrum in Worcester te open.

Ashlon gradueer binnekort, en beoog om reeds vanjaar die sentrum te open en ’n liefde vir toneelspel onder skoliere te bevorder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article