Geskiedenis is pas gemaak toe ’n inwoner van Worcester ná ’n nasionale verkiesing vir die Staatsdiens-pensioenfonds (GEPF) se trusteeraad gekies is.
David Jantjies, nasionale voorsitter van die Civil Servants Pension Redress Movement (CSPRM), het uit twaalf kandidate landswyd die tweede meeste stemme op hom verenig. Daarmee is hy as sekundus in die raad vir die land se staatsdienspensioenarisse aangewys.
“Dis nogal ’n verantwoordelike posisie om in te neem, aangesien jy al die voormalige staatsdienswerkers verteenwoordig en in verskeie staande komitees van hierdie raad dien,” sê Jantjies, wat ’n gebore en getoë Worcesteriet is.
“Die GEPF is die grootste pensioenfonds in Afrika en die agste sterkste van sy soort in die wêreld met bates van R2,09 triljoen. Hierdie bates móét reg bestuur, beskerm en optimaal belê word ten einde die grootste moontlike voordeel aan die fonds se lede, wat hard daarvoor gewerk het, te verseker,” verduidelik hierdie voormalige onderwyser.
“Die CSPRM is tans uiters besorgd oor R8,704 miljard wat sedert 2019 as pensioenregstelling aan slegs sowat 50 000 mense uitbetaal is, terwyl meer as 300 000 mense nie eens van hierdie regstelling bewus gemaak is sodat hulle voor 2012 kon aansoek doen nie,” vervolg hy. “Ons sal desnoods hierdie aangeleentheid op hoë vlak aandurf sodat reg en geregtigheid vir ons as voorheen benadeeldes teen wie erg gedurende die vorige politieke bestel gediskrimineer is, kan geskied.”
Jantjies sê verder: “Groot kommer heers onder pensioentrekkers oor beleggings wat met hul pensioengeld aangegaan word, asook oor voortdurende geluide uit regeringsgeledere dat hierdie pensioenfonds tot die redding van kwynende en korrupsie deurtrekte staatsondersteunde instansies soos Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Transnet moet kom.”
Jantjies het in 2008 die eerste aanstelling in die land as ’n anderskleurige skoolhoof by ’n voormalige model-C skool in Kraaifontein geword nadat hy wye ervaring opgedoen het as senior bestuurder by Spoornet aan die Weskus asook by die Suid-Afrikaanse Reserwebank in Pretoria, waar sy besonderse leierseienskappe en administratiewe bekwaamheid geslyp is.
Hy bly egter opgewonde praat oor sy beginjare as onderwyser by Esselenpark Primêre Skool in 1973 – letterlik ’n klipgooi van sy huis af.
“Nou rus ’n reusetaak op my skouers en ek weet hierdie posisie het nie sommer net in my skoot geval nie,” vervolg Jantjies.
“Die eer kom die Here toe, en dit was voorts die harde werk, saamstaan en stemme van die snelgroeiende CSPRM reg hier uit Worcester tot in die uithoeke van ons land en Namibië, wat die knoop deurgehak het.”
Die snelgroeiende CSPRM het die afgelope drie jaar landwyd asook in Namibië ’n beduidende voetspoor verkry onder afgetrede staatsdienswerkers aangesien hulle uiteraard nie meer werkers is nie en ook nie ’n werkersunie het om na hul belange om te sien nie.
Jantjies se energie het op 70-jarige ouderdom geen einde nie. Hy is die superintendent van Church Ablaze Ministries, die projekbestuurder van die Suid-Afrikaanse Moedertaalinisiatief en ’n direksielid van die DAK Netwerk, wat hulle onder meer beywer vir die beskerming van Afrikaans.
“’n Mens het altyd nog iets wat jy vir jouself, jou familie en jou gemeenskap kan doen. Doen wat jou hande vind om te doen,” sê Jantjies met ’n wakker glinster in die oog. . Vir lidmaatskap van die CSPRM en verdere navrae kan die voorsitter, Pat Horn, by 082 775 9249 gebel word.


