Misché Viljoen (24) van Worcester is al vir die afgelope twee jaar as ’n au pair in Duitsland werksaam. Sy is tans saam met die gesin wie se kinders sy na omsien, gestrand in Turkye weens die verwoestende aardskudding verlede week.

Credit: SYSTEM

“Dit voel asof die aarde onder jou gaan ingee. Jy vries, want jy kan niks anders doen nie. Dan sit jy die televisie aan en sien hoe duisende mense ’n paar kilometer van jou af sterf. Jou hart breek dan in eenduisend stukkies.”

So beskryf Misché Viljoen (24) van Worcester die impak wat die aardbewing in Turkye verlede week op haar gehad het.

Viljoen, ’n au pair wat die afgelope twee jaar in Duitsland werk, was sowat 300 km van die episentrum van die verwoestende aardbewing. Teen druktyd was sy en die gesin vir wie sy werk steeds vasgekeer in Gaziantep – 300 km van Sivrice, Turkye. Meer as 30 000 mense is oorlede ná die aardbewing in Sivrice en nog duisende vermis. Vlugte en die meeste ander vorms van binnelandse vervoer is vir eers gestaak.

Op Maandag 6 Februarie is Turkye en dele van Sirië in puin gelaat nadat ’n aardbewing van sowat 7,8 op die Richterskaal verskeie gebiede geteiken het. Intussen het die Verenigde Nasies en talle welsynorganisasies hulle gehaas om plaaslike inwoners by te staan.

Viljoen is nes talle ander in Turkye gestrand.

“Daar is tans internasionale vlugte van Istanbul, maar ons is sowat 1 000 km van die hoofstad. Ons bid die tyd om en wil net veilig terugkeer Duitsland toe in hierdie stadium,” sê Viljoen aan Standard.

Sy en die gesin vir wie sy werk, was met vakansie in Turkye toe die aardbewing tref. Hulle het oornag in die dorp waar hulle nou al meer as ’n week lank gestrand is en sou van daar na Kappadosië gaan om te ski. Hul vakansie sou egter op Saterdag 11 Februarie tot ’n einde kom. Teen druktyd was hulle steeds afwagtend op nuus oor wanneer hulle sal kan terugkeer.

“Ons kyk na alle moontlikhede. Ons het ’n babatjie wat nie maklik reis soos dit is nie en nog twee ander kinders ook. Die busse staan stil en binnelandse vlugte is gekanselleer. Ons sit en wag en hoop op goeie nuus.”

Viljoen sê dat die aardbewing verlede Maandag omstreeks 04:00 plaasgevind het.

“Ek het net voor 04:00 wakker geword en is badkamer toe. Ek het teruggestap en skielik gevoel hoe ruk alles om my. Ek het stilgestaan en begin bid. ’n Mens weet aanvanklik nie wat dit is nie,” verduidelik sy.

Sy vertel toe dat haar werkgewer dadelik na haar en die kinders gegaan het om seker te maak hulle is veilig. Sy is toe dadelik op sosiale media om te probeer uitvind wat aangaan.

“Ons het die televisie aangesit en ek is toe op my foon in op Facebook. Skielik het die nuus ingekom van ’n aardbewing. Elke uur daarna het dit erger geword. Meer mense is dood. Meer geboue is verwoes. Dit is aaklig.”

Viljoen sê ook dat daar nog gereeld skokgolwe ná die groot skudding voorkom en dat sy senuweeagtig is.

“ ’n Mens weet nie wat om te verwag nie. Elke dag probeer ons om net positief te bly. Ons is gelukkig veilig en gesond. Ons moet dankbaar wees. Ons kon aanbly in die hotel waar ons oornag het en plaaslike inwoners staan ons by met kommunikasie van die owerhede (want dis nie altyd in Engels nie). Die dorp waar ons is, het min tot geen skade nie, maar hier is baie mense wat hul familie aan die dood moes afstaan. Dis hartverskeurend.”

Viljoen hoop dat hulle teen die einde van die week ’n vlug sal kan kry en beoog om haar gesin dan ná die gebeure te sien.

“Die lewe is kort. My werkgewers het gesê ek mag vir drie weke na SA terugkeer om my familie te sien. Ek is dankbaar daarvoor, maar voel hartseer vir diegene wat hul gesinne verloor het,” voeg sy by.

Alf en Betsy Viljoen is opgewonde om hul dogter te sien. “Sy het ons dadelik laat weet van die skudding – nog voor ons dit elders kon lees. Ons is net dankbaar sy is veilig. Dit is aaklig om te weet jou kind gaan tans eerstehands deur hierdie gebeure soos ons dit op die nuus sien. Haar veiligheid is belangrik. Ons kan nie wag om haar te sien nie.”

Viljoen sê dat hulle hier-en-daar die dorp verken, maar meeste van die tyd by die hotel is met die hoop dat ’n vlug hul te beurt sal val.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article