Benjamin Truter (26), ’n jong opkomende kunstenaar en inwoner van Worcester, het onlangs sy eerste album, Wiederskant, vrygestel, waardeur hy ’n boodskap van hoop aan veral jong volwassenes oor kwessies soos geestesgesondheid, werkloosheid en uitdagings met die liefdeslewe wil stuur.
Wiederskant bevat sewe liedjies oor Truter se grootwordjare – van hoe sy ouma hom in ’n bad yskoue water moes druk toe hy as baba stuipe gekry het, tot sy depressiewe tienerjare.
Hy vertel ook sy verhaal van hoe sy geboorte so te sê ’n wonderwerk was nadat hy te vroeg in die wêreld gekom het.
Onder die sorg van dokters en die liefde van sy ma moes hy ses maande se groei binne drie maande inhaal, het hy verlede week vertel.
Truter het homself nou as Ben die Afrikaan gedoop – dit is onder dié naam waar jy al sy liedjies aanlyn sal vind.
Hy sê deur al sy lewensuitdagings is dit die “beskermende hand van God” wat hom tot vandag toe staande gehou het.
“Wiederskant praat met jongmense en spesifiek jong volwassenes. Ek dink baie keer is ons só vasgevang in ons omstandighede, dat ons dink dit is normaal; dat dit aanvaarbaar is.
“Hierdie album het ’n Christelike benadering. Ek haal letterlik uit die Bybel aan; gedeeltes van die boeke Job en Psalms word onder meer aangehaal.
“Ek was vir ’n baie groot deel van my jongmenslewe in hierdie donkerte vasgevang.
“Daar was ’n donkerte in myself, maar ek is ook beïnvloed deur die donkerte van die wêreld.
“My boodskap aan die luisteraar is dat God die lig is. Hy alleenlik is die lig wat daardie donkerte in jou lewe kan oorkom.”
Een van die liedjies begin met ’n stemnota wat sy ouma lank terug aan hom gestuur het.
Daarin sê sy hoe baie sy hom mis.
“Ek is baie lief vir jou hoor. Mag ons Here Jesus jou omvou, jou verstand verhelder en vir jou wysheid en insig gee en dat sy teenwoordigheid altyd by jou sal wees.
“Ek bid vir jou beskerming, Bennie, en dat die woorde van jou mond en die denke van jou hart welbehaaglik sal wees,” lui die stemnota.
Dit is dieselfde ouma wat, toe hy nog klein was, hom deur sy stuipe-episodes gehelp het.
Die stemnota is gestuur toe hy deur ’n emosionele tydperk gegaan het.
Al sewe liedjies is Afrikaanse rymklets, maar nie soos almal dié genre ken nie, het Truter verduidelik.
“Ek wou musiek maak waarna ek graag sou wou luister.
“Ek dink hierdie algemene wanpersepsie is geskep van wat Afrikaanse musiek is en hoe dit moet klink, en dat dit vir ’n spesifieke gehoor bedoel is.
“Enigiemand wat Afrikaans verstaan, sal by hierdie album aanklank vind,” het hy benadruk.





