Die Worcester Victorians-krieketspan het Saterdag sy rieme teen die liga-voorlopers, Stellenbosch KK, styfgeloop.
Viccies se kaptein, Peter Verhoog, het die loot gewen en besluit om die manne van Stellenbosch in te stuur om in die hoogtepunt van die verskriklike hitte te gaan kolf.
Die manne van Stellenbosch is van meet af onder druk geplaas deur uitstekende boulwerk van Viccies se boulers, maar ’n paar verbroude vangkanse deur sy veldwerkers het Stellenbosch se manne egter uit die moeilikheid gehou.
Stellenbosch, wat op een tydstip op 75 vir die verlies van vyf paaltjies gesteier het, is uiteindelik almal kleedkamer toe gestuur vir 159 lopies in 47 boulbeurte.
Vir Stellenbosch het Shane Williams met 52 met die kolf uitgeblink. Adrian Barros het 24 lopies gemoker en Timmy Cornelissen 17.
Die uitblinkers met die bal vir Viccies was Rual Khumalo wat drie paaltjies vir slegs 15 lopies in vyf boulbeurte laat kantel het; Peter Verhoog met drie paaltjies vir 37 lopies in 10 boulbeurte; Rumarc Wildskut met twee paaltjies vir 21 lopies in agt boulbeurte en die nuweling Marc Anthony, wat twee paaltjies vir 31 lopies in agt boulbeurte geneem het.
Victorians het posisie voor die penne ingeneem, maar paaltjies met reëlmaat verloor.
Die manne van Viccies is vir slegs 78 lopies in 32.3 boulbeurte almal uitgeboul.
Leighton Davids (17 lopies van 47 balle); Gareth Wildskut (16 lopies; 17 balle) en Roswell Cornelius (14 lopies; 42 balle) is die enigstes wat dubbelsyfers vir die manne van Viccies behaal het.
Die manne wat die skade met die bal aangerig het, was Timmy Cornelissen, wat vier paaltjies vir slegs 20 lopies in 7.3 boulbeurte laat kantel het; Adrian Barros (twee paaltjies vir nege lopies in ses boulbeurte); Laughton Barends (twee paaltjies vir 10 lopies in ses boulbeurte) en Sanele Qubuda (twee paaltjies vir 18 lopies in vyf boulbeurte).
Stellenbosch & Distrikte, die ligavoorlopers, het die wedstryd met 81 lopies gewen.. Hierdie naweek speel Worcester Victorians weer tuis teen Young Peoples van Paarl.

