Foto ter illustrasie.Foto: Pexels


Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) het op 26 Julie ’n persverklaring uitgereik wat verduidelik dat slimfone in skole verbied moet word.

Volgens die verklaring hou slimfone onder minderjariges vele gevare in, en deur die gebruik daarvan tydens skoolure te verbied, sal dié gevare verminder word.

“Slegs tegnologie wat ’n duidelike rol in die ondersteuning van leer speel, moet op skool toegelaat word,” luidens die verklaring.

Vele lande het reeds ’n gedeeltelike of volle verbod op die gebruik van slimfone geplaas, insluitend Bangladesj, Singapoer en Frankryk.

Onlangs het Duitsland ook selfone, tablette en slimhorlosies van 1 Januarie 2024 af in alle klaskamers verbied.

Studies wat in die verslag aangehaal is, het bevind dat leerders se konsentrasie en punte verbeter het toe selfone in klaskamers verbied is, aangesien leerders se aandag nie afgelei word nie.

’n Ander studie deur navorsers van die Verenigde Koninkryk het bevind dat te veel skermtyd angs en depressie by minderjariges kan aanwakker weens ’n verlies aan slaap en oefening en moontlike kuberafknouery.

Volgens Pieter Visagie, ’n opvoedkundige sielkundige in Worcester, sluit die gevare van selfone onder meer kuberboelie, pornografie en gewelddadige beelde en boodskappe in.

Terselfdertyd het Visagie verduidelik dit is belangrik vir ouers en skole om minderjariges oor dié gevareop te voed eerder as om net selfone in skole te verbied en dit af te neem.

Volgens hom is hierdie taktiek net tydelik, maar indien leerders die gevare verstaan, sal hulle die internet versigtig benader.

Die Standard het navraag gedoen by die Hoërskool Montana in Worcester om te hoor wat dié skool se selfoonbeleid is.

Volgens Brandt du Plessis, Montana se skoolhoof, het die skool reeds vyf jaar gelede ’n streng selfoonbeleid ingestel, wat deur die beheerliggaam goedgekeur is.

“Geen fone, tablette of slimhorlosies word tydens klastye en klaswisseling toegelaat nie,” het Du Plessis verduidelik, “omdat dit die leerders se aandag kan aftrek en die moontlikheid inhou om wanorde te skep”.

“Indien leerders die reël oortree, kan hul selfoon vir twee maande afgevat word,” sê Du Plessis, wat ook verduidelik het dat die meeste leerders wel dié reël nakom, maar “kansvatters” duik steeds af en toe op.

Volgens Liezel van der Westhuizen, skoolhoof van Wynland Primêre Skool, het dié laerskool reeds sowat drie jaar gelede die gebruik van selfone, tablette en slimfone op die skoolterrein as ’n geheel verbied.

Volgens haar was daar geen teenstand teen die besluit nie, en in die geval van ’n oortreding sal die tegnologiese apparaat tot die einde van die kwartaal afgevat word.

“Die kinders doen vreemde goed, […] hulle speel speletjies, neem video’s en plaas dit op Tik Tok met die kinders wat in skoolklere is,” het Van der Westhuizen verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article