Vallei FM, ’n plaaslike gemeenskapsradiostasie in Worcester, vier vanjaar sy 21ste bestaansjaar.

Hierdie mylpaal in die stasie se bestaan gaan gevier word met onder meer ’n hersfbal môre-aand (Vrydag 12 April) en ’n groot gala-aand in November.

Die geld wat ingesamel word, gaan aangewend word om twee omskakelaars (inverters) vir die radiostasie aan te skaf.

Catherine Wiese, wat op 1 Maart vanjaar as stasiebestuurder by Vallei FM aangestel is, sê die afgelope 21 jaar was nie altyd die maklikste nie.

“Ons het maar ons ups and downs gehad. Ons het ’n klomp aanbieders gehad. Oor die jare het hulle al hoe minder geword.

“Kyk, ons kon hulle nooit ’n salaris aanbied nie. Ons het wel vir hulle toelaes en vervoergeld gegee.

“Ek onthou – ons het met meer as 100 vrywilligers begin. Tans is ons 15 vrywilligers wat verskeie programme by Vallei FM aanbied.”

Wiese sê veral nou oor die afgelope twee jaar het Vallei FM groot finansiële uitdagings gehad met een van die groot advertensieagentskappe wat bankrot geraak het.

Volgens haar het die advertensieagentskap die stasie nog ’n hele paar rand geskuld. Sy sê toe die maatskappy bankrot raak, het die stasie se omskakelaars die gees gegee as gevolg van die druk van beurtkrag.

“So, wat toe gebeur is, as ons beurtkrag in Worcester ervaar, is Vallei FM heeltemal van die lug af en kan ons luisteraars in ons ander opvangsgebiede ons nie opvang nie.

“As daar beurtkrag in Rawsonville is, maar Worcester is aan, kan die luisteraars ons steeds nie hoor nie, want ons hoofsender is daar en dan is die krag by die hoofsender boonop ook af.”

Volgens Wiese benodig die stasie twee omskakelaars – een vir Worcester, sodat dit die ateljees aan die gang kan hou, en een by die hoofsender, sodat dit die stasie aan daardie kant op die lug kan hou.”

Sy sê die goedkoopste omskakelaar kos sowat R30 000. Volgens haar is die waarborg nie so lank nie.

“Ons kyk byvoorbeeld nou na ’n 5 kW-omskakelaar waarvan die prys tussen R79 000 en R115 000 is. Ons benodig twee van hulle.

“Die voordeel van hierdie 5 kW is dat hy ook deur sonpanele ondersteun kan word. Hy kom uit met twee sonpanele. So, dit maak nie saak wat gebeur nie, die sonpanele sal hom ook aan die gang hou.”

Volgens Wiese probeer die stasie om elke Saterdag worsrolletjies te verkoop sodat luisteraars die stasie finansieel kan ondersteun.

Sy sê Vallei FM is dankbaar vir die ondersteuning.

Môre-aand (12 April) se hersbal, wat die “Autumn Ball” genoem word, begin om agtuur en word in die Worcester-stadsaal gehou. Die New Strings Dance Band gaan daar optree.

Mense wat die bal gaan bywoon, moet hul eie kosmandjie saambring. Kaartjies kos R120 per persoon.

Op 2 November – die dag voor Vallei FM se verjaardag – word ’n groot gala-aand in die Somerset-skoolsaal in Worcester gehou.

Wiese sê by dié formele rooitapyt-geleentheid gaan onder meer die omroeper van die jaar aangewys word. Sy sê diegene wat die afgelope 21 jaar ’n verskil by Vallei FM gemaak het en diegene wat in die stasie se krisistye ’n helpende hand uitgesteek het, gaan ook vereer word. Kaartjies kos R350 per persoon en sluit ’n driegang-maaltyd in.

Kaartjies vir die herfsbal- en gala-aand is te koop by Vallei FM se kantoor in Greystraat. Kaartjies is ook op die aand van die twee geleenthede by die deur beskikbaar.

Wiese sê ’n datum vir die dankseggingsdiens wat in Oktober in die VGK Sentraal in Adderleystraat gehou word, sal later bekend gemaak word.

Vir navrae kan die stasie by 023 347 7096 gebel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article