Bouwerk aan ’n vyfde reservoir vir Worcester, wat teen ’n koste van R74 miljoen opgerig word, het begin.
Dit sal bokant die Worcester-gholfbaan opgerig word. Die kontrakteur is reeds op die perseel en die uitgrawings vir die bou van die reservoir het al begin.
Worcesteriete wat in die omgewing woon, sal bedags die geraas hoor van die rotsbanke wat uitgeboor word om plek vir die nuwe reservoir se fondament te maak.
Agtergrond
Worcester se waterverspreidingsnetwerk bestaan uit sewe sones, wat deur vier verskillende reservoirs bedien word, naamlik De Koppen, Langerug, die “pre-loads” bokant die gholfbaan (waar die nuwe reservoir gebou word), Worcester-Wes bo en die Worcester-Wes-“sump”. Die “pre-loads” is die grootste en verskaf vir 62% van Worcester se inwoners water.Noodsaaklikheid van reservoirs
Reservoirs dien twee doele in die waternetwerk: Eerstens dien dit as noodvoorraad wanneer ’n onderbreking by die bron ervaar word; tweedens balanseer dit bergingskapasiteit en is dit nodig om aanvraag uit te balanseer. In dié opsig is die ideaal dat die munisipaliteit se reservoirs ’n 48-uur-kapasiteit vir noodgevalle sal hê.
Grootte
Om te bepaal hoe groot die nuwe reservoir moet wees, is die optimum volume noodvoorraad en die balanseringsvolume met mekaar vergelyk. Aangesien Worcester se grootste waterbron die Stettynskloofdam is en die pyplyn van daar af ongeveer 30 km lank is, word gepoog om Worcester 48 uur se noodbergingskapasiteit te gee. Gevolglik is bereken Worcester benodig ’n bykomende 20-megaliter-reservoir.
Koste
Die werk het in April begin en die beplande konstruksietydperk is 71 weke. Die kontrakteur hoop om die werk teen 31 Augustus 2023 te voltooi. Die algehele projekwaarde beloop ongeveer R74 000 000. Dit sluit die aanlê van ’n nuwe pypnetwerk in om die reservoir by die bestaande reservoirs aan die netwerk te koppel.
Die pad vorentoe
Met die Langerug-reservoir, wat ’n tyd gelede voltooi is, en die bykomende reservoir, wat in die spreekwoordelike pyplyn is, kan Worcesteriete verseker wees van ’n bestendige watervoorraad vir huidige en toekomstige ontwikkeling in Worcester. . Inligting verskaf deur dr. Julian Kritzinger, BVM-burgemeesterskomiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling, toerisme, kuns en kultuur.




