Die jaarlikse De Jagers-uitdaag-doelbaltoernooi word Saterdag 1 Julie in die Danie Luckhof-saal by Innovation for the Blind in Worcester gehou.
Die doel van hierdie toernooi is nie net om geld vir Worcester se doelbalklub in te samel nie, maar ook om die sportsoort aan die publiek bekend te stel.
Doelbal is ’n sportsoort vir siggestremdes en is ook ’n afdeling van die Paralimpiese Spele, waar die spanne uit drie spelers bestaan.
Die De Jagers-uitdaag-doelbaltoernooi sal een blinde speler per span insluit.
Enigiemand is welkom om ’n span in te skryf, en alternatiewelik kan spanne teen R250 geborg word, wat die inskrywingsfooie dek.
Pryse kan ook geborg word om aan deelnemers te oorhandig, en melding van die borge sal op die klub se Facebook-blad gemaak word.


