Twee Worcester-boorlinge, Martie en Chris Lourens, se seun is onlangs as Mnr. Dowe SA gekroon. Standard het vir Christo Lourens (32) ’n paar vrae oor sy nuwe titel gevra.
Hoe voel dit om Mnr. Dowe SA 2022 te wees? En wat beteken hierdie prestasie vir jou?
Ek is geweldig trots daarop. Dit is vir my ook ’n groot voorreg om erkenning te kry vir die harde werk en bewusmakingsaksies wat ek van stapel gestuur het.
Wat was jou eerste reaksie toe jy as die wenner aangekondig is?
Ek voel baie trots dat ek gewen het en dat ek die titel hierdie jaar kon Kaap toe bring. Ek besef ook dat dit met groot verantwoordelikhede gepaard gaan.
Wat het jou geïnspireer of gemotiveer om aan hierdie kompetisie deel te neem?
Ek is benoem en hou daarvan om nuwe uitdagings aan te pak.
Hoe sal jy hierdie ervaring beskryf?
Die publisiteitsweek was in Durban van 28 Augustus tot 3 September. Al die finaliste (Mnr., Mev., en Mej. Dowe) het bymekaargekom. Die week was vir my baie leersaam en ek het ook baie nuwe mense ontmoet. Die Vrydag voor die gala-aand het ons almal onderhoude met verskillende beoordelaars gevoer. Dit was nogal baie spanningsvol, maar ek het die heeltyd positief gebly. Uit die proses het ek geleer dat jy in jouself moet glo. Dit was ’n baie groot verrassing toe hulle my naam uitgelees het.
Watter verantwoordelikhede het jy nou as Mnr. Dowe SA?
Ek het ook die liefdadigheidstoekenning gekry. Hierdeur kry ek die geleentheid om nie net my drome uit te leef nie, maar ook om ander dowes te motiveer en aan te moedig om voluit te lewe. Met die ondersteuning wat ek nou kry, kan ek die komende jaar voortgaan met my liefdadigheidswerk en dit uitbrei.
Is daar enige spesifieke projekte of planne wat jy van stapel wil stuur in hierdie jaar?
My fokus vir die komende jaar is om sport onder gestremdes te bevorder. Ek is baie lief vir sport, veral langafstandhardloop, fietsry en stap. As jy byvoorbeeld aan ’n wedloop deelneem, maak dit nie saak watter titel of rang jy het en of jy gestremd is nie, almal is op dieselfde vlak met dieselfde doel voor oë en dit is om die eindstreep te bereik. Almal wat die eindstreep oorsteek, is wenners.
Watter stokperdjies geniet jy?
Ek geniet dit om in die buitelug te wees. Ek doen langafstanddraf, hou van stap soos die Visrivier, fietsry en kamp.
Het jy enige woorde van inspirasie vir dié wat bo hul uitdagings in die lewe wil uitstyg?
Glo in jouself. Volg jou drome, jou drome ken die pad.





