Ten spyte van baie uitdagings vir die bestuur van Worcester-museum, is hulle oortuig dat die lewende museum se gewildheid en besoekerstalle groei.


Die Worcester-museum het Vrydag (16 Februarie) ’n hele paar nuwe planne met talle ontbytgaste gedeel.

Verskeie rolspelers uit die gemeenskap is deur die Vriende van die Museum vir ontbyt genooi. Die museum se bestuurder, Emile Badenhorst, het die gaste toegespreek voordat almal lekker gesmul het.

“Besoekersyfers lyk goed. Ons begin nou weer busse vol toeriste ontvang.”

Hy het ook verduidelik die museum gaan tans deur ’n tydperk van hernuwing.

“Tye het verander. Ons werk aan nuwe dinge en is meer gefokus op die plaaslike gemeenskap.”

Verskeie aktiwiteite is aan die gangwaaraan die jonges in die gemeenskap kan deelneem.

“Ons vakansieprogram in Desember het so goed gevaar dat ons besluit het om die program in die winter-vakansie weer aan te bied. In hierdie program kry die kindertjies die geleentheid om aan lekker outydse aktiwiteite deel te neem. Hulle maak byvoorbeeld karretjies uit blikkies. Ons fokus baie op herwinning. Hulle maak ook poppies uit hooi en goiing. Ons laat hulle ook stokbrood maak. Hulle knie self die deeg en dan maak ons ’n vuur en help hulle dan om dit te braai. Hulle hou ook ’n sakresies.”

Kinders kan ook nou die diere op die perseel gaan voer.

“Ons het nou die dag daarmee begin. Die kinders kan op ’n Saterdag die oom wat na die diere omsien, kom help om die diere te voer. Die kinders was met ons eerste probeerslag gaande daaroor.

“Hulle almal het ’n groot glimlag op die gesig gehad. Hulle kan Saterdae tussen 08:00 en 13:00 kom help om die diere te voer.”

Badenhorst wil graag die kinders van die gemeenskap nog verder by die museum betrokke kry.

“Ons kyk daarna om hierdie kindertjies deel te maak van ’n ‘junior vriende van die museum’-inisiatief. Hulle kry dan elk hul eie tuinbedding en moet self saadjies plant en na hul tuintjies omsien. Hulle moet ook saam-saam ’n voëlverskrikker bou.”

Hy verduidelik ook van ’n opwindende nuwe projek en uitstalling wat nog in die beplanningsfase is.

“Omdat Worcester die ‘Care Capital’ is, het ons gedink aan ’n uitstalling vir die gestremdes in die dorp. ’n Navorser het reeds verskeie onderhoude by NID en die Pionierskool gedoen en ook met verdere navorsing begin om so ’n uitstalling uiteindelik moontlik te maak.”

Hy voeg by dat die uitstalling nie net vir siggestremdes of dowes moet wees nie, maar ander lede van die publiek en besoekers moet ook by die uitstalling kan baat vind.

“Ons is natuurlik ’n landboumuseum en dit sal dus lekker wees as siggestremde mense kan kom voel hoe voel ’n ossewa of ’n outydse melkkan. Hier is baie goed wat hulle kan optel en voel. Hopelik sal die projek volgende jaar ingestel word.

“Vir nou moet alle navorsing eers voltooi word en die weg vorentoe moet nog beplan word. ’n Groep studente van die Universitiet Stellenbosch gaan die uitstalling en dinamika daarvan ontwikkel.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article