Meer as 1 000 inwoners van Roodewal en Hexpark in Worcester, wat keelvol is vir die voortslepende misdaad in hul onderskeie buurte, het vanoggend (6 Julie) ‘n vreedsame protes-optog na die Worcester-stadsaal gehou waar ‘n memorandum aan verteenwoordigers van die polisie, departement van justisie en Breedevallei-munisipaliteit oorhandig is.
In die memorandum vra inwoners dat aandag gegee word aan onder meer georganiseerde misdaad, doeltreffende polisiëring en onafgehandelde sake.
Optoggangers het vanoggend plakkate omhoog gehou wat onder meer lui: “Roodewal in vrede”, “Stop die misdaad”, “Stop die moorde”, “Bendes gaan tronk” en “Stop bendegeweld”
Kol. Willis Smith van die Worcester-polisie het onder meer aan optoggangers gesê hy is bly dat die gemeenskap hul stem verhef deur te sê hulle is keelvol vir die aktiwiteite van bendes
Volgens hom moet die gemeenskap en alle rolspelers saamstaan om van dié euwel ontslae te raak.
Past. James Davids het op sy beurt die gemeenskap gevra vir groter betrokkenheid. Hy het ouers daaraan herinner dat hulle ten alle tye moet weet waar hul kinders is, waarmee hulle besig is en met wie hulle betrokke is.
Die polisie, departement van justisie en Breedevallei-munisipaliteit het ‘n week om op die inhoud van die memorandum te reageer.
Lees die volledige berig volgende week in Standard.





