Worcester se Tariq Klink is onlangs as Beste Manlike Model by die SA skoonheidskompetisie-toekennings aangewys.
“Ek voel baie goed hieroor. Op die ou einde doen ek dit nie net vir myself nie, maar vir ons gemeenskap se mense.”
Klink het in sy matriekjaar die heel eerste keer aan ’n soortgelyke kompetisie deelgeneem en die topvyf gehaal.
“Dit was sommer net vir die pret wat ek deelgeneem het. Dit was ’n geldinsamelingsinisiatief vir ons skool. Daar was egter ’n verteenwoordiger van ’n agentskap ook daar op dié dag en sy het agterna met my kom praat en my aangemoedig om aan te hou om aan sulke kompetisies deel te neem,” verduidelik Klink.
Die 22-jarige is tans in sy derde jaar aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) waar hy menslike hulpbronbestuur studeer.
Hy is ook die huidige Mnr. Westelike Provinsie (Western Province) en wil graag voortgaan om aan kompetisies deel te neem.
As deel van hierdie kompetisie moet deelnemers baie betrokke wees by hul gemeenskap en dit is juis een van die redes hoekom hy sy onlangse titel gewen het.
“Hulle kyk na jou profiel om vas te stel wat jy alles in jou gemeenskap doen, woon jy byeenkomste by, beoefen jy enige buitemuurse aktiwiteite en so voorts.
“Dit het dan alles tot my oorwinning bygedra.”
Klink het ook vanjaar teruggetrek na Worcester – juis omdat sy program so vol is.
“Ek het ’n goeie support system hier. Ek doen nou studies aanlyn. My rooster word oorheers deur die verskillende projekte en gesellighede wat ek as deel van my Mr. Western Province- regerende jaar moet bywoon.”
Hy beplan om ook nadat hy sy studies voltooi het, ’n goeie werk te kry en dan wil hy graag verder gaan studeer.
Hy beplan om dan sportwetenskap en biokinetika te studeer.





