“Die jeug van vandag is die leiers van môre,” het Nelson Mandela in 1990 gesê toe hy ’n hoërskool in Boston, Johannesburg, toegespreek het.
Nasionale Jeugdag vind môre (16 Junie) plaas en herdenk die geskiedkundige Soweto-opstand van 1976 nadat die apartheidsregering opdrag gegee het om Afrikaans, tesame met Engels, die taal van onderrig te maak in swart skole, en die inheemse tale wat die skoliere kon praat, af te water.
Op 16 Junie 1976 het duisende skoliere ’n protesoptog uitgevoer in Gauteng wat hierdie wet betwis het, en teen die apartheidsregering geveg het.
Die polisie was veronderstel om honde, traangas en rubberkoeëls op die skoliere te gebruik, maar het in plaas daarvan op die skoliere losgebrand en meer as 500 doodgeskiet, waarvan Hector Pieterson een van die eerste slagoffers was.
Hoërskool Somerset
Standard het Hoërskool Somerset in Worcester besoek en met vier van sy leerders gesels oor presies wát Jeugdag vir hulle beteken.
Volgens Ruva Guzha (gr. 10) is Jeugdag ’n herinnering aan hoe ver Suid-Afrika se jeug bereid is om te gaan vir hul reg op onderrig, terwyl Aaleyah Cochrane (gr. 9) verduidelik dat dit ’n belangrike dag is om te herdenk omdat dit gaan oor onderwys, wat die sleutel tot sukses is vir die land se jeug.
Volgens Shauaghan Buys (gr. 8) ervaar vandag se jeug vele uitdagings wat insluit groepsdruk, waar sommige leerders mekaar aanmoedig om nie te leer nie omdat dit nie “cool” is nie, en eerder te verval in dwelm- en drankmisbruik.
“ ’n Kind kan nie leer as hy/sy honger is nie,” sê Ongezi Wekhuphiso (gr. 10), wat verduidelik dat hongerte nog ’n uitdaging vir die jeug is.
“Leerders sien nie die silwer randjie nie,” sê Guzha.
Volgens haar is dit ’n uitdaging vir sommige jeug om die belangrikheid van “harde werk om êrens te kom” in te sien as hulle minderbevoorreg is en bewus is van soveel jeug wat beter moontlikhede het omdat hulle uit bevoorregte huise kom.
Cochrane voeg ook by dat skoolleerders dikwels gedemotiveerd is om skool toe te gaan en hul tersiêre studies voort te sit as hulle die broodwinner moet wees, en hul familie moet onderhou.
Nog ’n uitdaging is die hoë werkloosheidsyfer, sê sy.
“Die jeug wil nie skool toe gaan of gaan studeer as daar nie werk is vir hulle nie, wat is dan die doel?”
Volgens Wekhuphiso is daar ’n groot persentasie van die jeug wat sukkel met hul geestesgesondheid weens die “grootmens”-verantwoordelikhede wat hulle in die gesig staar, en dat dit nie genoeg aandag geniet vir die jeug om gemotiveerd te voel om aan hul toekoms te dink nie.
“Die staat hou die jeug se verlede, hede en toekoms in sy hande,” volgens Guzha, wat ook sê dat baie kinders negatief voel oor die toekoms van Suid-Afrika, omdat die plaaslike en nasionale regering nie die beste belange van die jeug op hul hart dra nie.
Hoërskool Breërivier
Kaylee Wehr en Lidia Klink (beide gr. 11) van die Hoërskool Breërivier, het aan Standard gesê dat baie van die uitdagings wat vandag se jeug ervaar te doen het met armoede, en hulle as gevolg daarvan nie kan bekostig om skool toe te gaan, of verder te droom oor tersiêre studies en ’n beroep van hul keuse nie.
Volgens Wehr moet die jeug probeer uitstyg bo hul omstandighede, en ’n beter toekoms vir hulself uitkerf as waarin hulle grootgeword het en waaraan hulle gewoond is.
“Ons bly in Avianpark, en ek en my suster slaap in dieselfde kamer,” sê Klink.
Volgens haar is sy vasbeslote om eendag ’n groter huis te besit met ’n goeie werk, en sal sy hard werk totdat sy dit realiseer.
Klink behoort aan Worcester se junior stadsraad, en beide is deel van die verteenwoordigende raad van leerders (VRL) by die Hoërskool Breërivier en dien in verskeie komitees by hul skool.
Sinegugu Silara, ’n gr.11-leerder aan die Pionierskool, asook junior burgemeester, sê dat Suid-Afrika se jeug die lig in Suid-Afrika se donker tonnel is, deurdat baie van diegene vasbeslote is om hard te werk.
Die Worcester-jeuguitreikprogram bied ook môre van 08:30 tot 13:00 ’n loopbaanuitstalling in die Worcester-stadsaal waar leerders gratis ’n draai kan gaan maak om meer uit te vind oor loopbaankeuses. Volgens Paulett Apollis, koördineerder van die uitreikprogram, sal dié dag daarop fokus om leerders bekend te stel aan verskeie loopbaan-opsies, insluitend universiteite, technikons, en ander tersiêre instellings.





