Worcester Gim het die afgelope Paasnaweek by die Kearsney College-Paasrugbytoernooi uitstekende rugby gespeel.
Die manne van Worcester het met 38-37 met die Hoër Landbouskool Marlow klaargespeel en Rustenburg met 26-25 geklop. Hulle het ook ’n uitstekende wedstryd op die laaste dag van die toernooi teen die Hoërskool Framesby gespeel, maar in dié uiters spannende wedstryd met net twee punte verloor.
Die Worcesteriete het – nadat die span van Gqeberha met 19-0 voorgeloop het – ’n merkwaardige terugvegpoging in die tweede helfte van stapel gestuur, maar uiteindelik net-net kortgeskiet om met 34-36 te verloor.
Lorenzo Harmse (heelagter) van Worcester het twee van sy span se altesaam vyf drieë ná die omdraaislag gedruk, terwyl Amaan Adendorff (loskopstut) ook ’n barshou in die wedstryd gespeel het.



