Rugby ball (Photo by Kai Schwoerer/Getty Images)


Wolseley, wat gehoop het om in sy wedstryd teen Newtons ten minste met ’n gelykopuitslag tevrede te wees, is wreed ontnugter toe ’n laat strafdoel van hul opponente ’n skielike einde aan die wedstryd gebring het, met nog sowat 10 minute speeltyd oor.

Dit was kortliks die stand van sake in ’n Witsentraalstreek-wedstryd van die Grootuitdaagbeker-reeks tussen Newtons en Wolseley in Wellington, met Newtons wat naelskraaps deurgeskuur het met ’n telling van 22-19 nadat hy teen rustyd 9-0 voor was.

Die wedstryd self het nie veel om die lyf gehad nie, met albei spanne wat maar gesukkel het om beheer te neem. Wolseley het lelik kleigetrap om sy voete te vind en met ongedwonge foute verskeie kanse op punte verspeel.

Daarby het Newtons, aanvanklik saam met die wind, Wolseley met goed geplaaste skoppe in sy eie halfgebied vasgepen. Drie strafdoele deur Newtons se Theo Marinos het ’n einde aan ’n baie interessante eerste helfte gebring met die tuisspan gerieflik 9-0 voor.

Die tweede helfte, wat goeie belofte ingehou het, was baie meer opwindend met Wolseley desperaat op soek na punte. Die spelers het hulle baie beter by die omstandighede aangepas en met baie beter ondernemingsgees gespeel, wat hulle na ’n trefferspan laat lyk het.

’n Skitterdrie deur die vlugvoetige flank Courtney Daniels – nadat Wolseley blitsig na links aangeval het – en wat pragtig uit die hoekie deur Henrico Maurice verdoel is, het Wolseley met 9-7 binne trefafstand van Newtons gebring. Die wedstryd het in ’n wipplankstryd ontaard, met die spanne wat skielik vlamgevat het.

’n Drie kort ná die afskop deur Newtons se Carlo van Greuning, verdoel deur Marinos, het Newtons se voorsprong na 16-7 vergroot met nog baie speeltyd oor.

’n Skitterdrie deur die woelige skrumskakel Brandon Williams (met ’n lopie wat hy self begin en pragtig afgerond het), maar waarvan die doelskop verbrou is, het Wolseley weer 16-12 binne trefafstand geplaas.

Nog ’n strafdoel deur Marinos het die wedstryd na ’n 7-puntwedstryd op 19-12 te staan gebring.

Nog ’n pragdrie deur Williams, nadat Maurice skouspelagtig gebreek het, langs die pale (wat ook deur Maurice verdoel is) het die telling tot 19 elk gebring, met nog tien minute se speeltyd oor.

’n Bisarre strafdoel ná die inskop, wat Marinos oorgeklits het, het die wedstryd op ’n antiklimaks laat eindig met nog redelike speeltyd beskikbaar. Eindtelling: Newtons 22-19 Wolseley.

Ander uitslae van die dag:

Newtons B 3-13 Wolseley B

Newtons C 21-30 Wolseley C. Saterdag pak Wolseley Hillcrest United tuis terwyl Ceres besoek van Newtons ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article