Wolseley moes Saterdag op Malmesbury op die harde manier leer dat sukses net ’n week lank duur as jy nie gefokus bly nie.

Dit is toe Malmesbury hulle in ’n promosie-ligawedstryd hard aarde toe gebring het ná hul goeie vertoning die vorige week teen Overstrand. Malmesbury het die besoekers verspot maklik met 119 lopies oorrompel met veral Malmesbury se boulers wat duidelike die oorhand gehad het.

Malmesbury, wat die loot gewen en besluit het om eerste te kolf, het hom teen middagete reeds in ’n gunstige posisie bevind nadat hulle ’n baie goeie verdedigbare 189 lopies in 49.2 boulbeurte bymekaar gemaak het. Hul beurt was grootliks gebou deur ’n pragtige vennootskap van 105 lopies om die derde paaltjie tussen André Pienaar 58 (4×4 – 6×2) en Sergio Rooms 47 (4×4) wat ook mooi bygedra het.

Aan die boul-front het Wolseley se Jacques Esau 9.2-3-15-3,Wilbur Pietersen 10-2-31-4 en Duran McClune met 7-0-27-3 weer eens hul waarde met die bal onderstreep.

Wolseley wat die middagskof begin het, het ’n uitdagende taak op hande gehad en was van meet af in die moeilikheid. Sy top-ses kolwers, wat tans ’n lopie-droogte ervaar, het nogmaals misluk, want met hul telling op 26 vir 6 ná slegs 8.4 boulbeurte was die wedstryd vir alle praktiese doeleindes vir hulle verby. Altesame 70 lopies in 15.4 boulbeurte wat 89 minute geduur het, was al wat Wolseley kon vermag. Malmesbury het moeiteloos hul totaal verdedig en daarvoor het hulle net twee boulers nodig gehad. Franscois Arendse (8-4-19-6) was eenvoudig skitterend op dreef met die bal, terwyl sy aanvangsmaat Tiaan Serdyn met 7.4-0-41-4 net so bedrywig was.

Wolseley se kolwers was duidelik nie opgewasse vir hul taak op hande nie en daar was minder ekstras, met 28 die hoogste telling van die beurt. Slegs Duran McClune 17* (4×3) en Gershwin Faroa 15 (4×2 – 6×1) kon dubbelsyfers behaal. Malmesbury wen met 119 lopies en verdien ook ’n bonuspunt.

Op Wolseley het die tuisspan se naasbestes Malmesbury met 7 paaltjies geklop. Malmesbury het 153 vir 8 in sy toegelate 50 boulbeurte aangeteken met Ashwin Hendricks 9-0-29-2, Damian Solomons 10-4-12-2, Martin Zeeman 7-1-25-1 en Montell George 7-1-25-1 die paaltjienemers.

Wolseley, met 155 vir 3 in 41.3 boulbeurte, het die verlangde wenteiken bereik met nog 7 paaltjies staande. Damian Solomons met ’n pragtige onoorwonne 97* (4×9) het die kollig gesteel met sy uitstekende beurt.

Martin Zeeman met 20 (4×1) het ook netjies bygedra. Matthew van Wyk met 10-3-26-3 het Malmesbury in die prentjie probeer hou, maar die momentum was aan Wolseley se kant.

Komende naweek speel Wolseley gasheer vir Paarl-Oos terwyl Malmesbury na Wellington reis vir ’n wedstryd teen Bergrivier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article