Ná die vorige week se puik vertonings het Wolseley sy eie mooi werk onaangedaan gemaak met ’n teleurstellende vertoning in sy laaste wedstryd van die Promosieliga-kompetisie.

Wolseley het Saterdag op sy tuisveld ’n gulde geleentheid deur sy vingers laat glip om sy uiteindelike plek op die punteleer te konsolideer toe Young Peoples Wolseley se drome so te sê verydel het om sy posisie te verbeter. Dit was ’n wedstryd wat Wolseley ten alle koste moes wen om sy kanse lewend te hou, maar hy het klaaglik misluk.

Wolseley kan net homself blameer oor die huidige stand van sy sake want sy spelpeil was benede peil en te wisselvallig.

Saterdag teen Young Peoples was tipies ’n teken van Wolseley se soms gesukkel toe Young Peoples hulle maklik met 76 lopies afgestof het, dit nadat hulle teen middagete ’n billike kans gestaan het om die wedstryd te wen. Dit was nadat hulle die besoekers tot ’n beskeie 139 lopies na 42.2 boulbeurte beperk het.

Charles Daniels 20 (4×2) en Noah van Niekerk 30 (4×2 6×1) het nuttige bydraes met die kolf gelewer. Wolseley se boulers wat week ná week hul harte uitgeboul het, het weer so gemaak. Jacques Esau (9-3-16-0), Rashied September (10-4-14-2) en die man van die oomblik Audifion Davids (9.2-0-22-6) het werklik met groot gesag en vernuf geboul.

Dis egter in die kolf-afdeling waar dinge vir Wolseley lelik skeefgeloop het. Lopies en die skaarsste daarvan wat heel seisoen Wolseley se probleem was, het Saterdag weer lelik aan die hakskeen gebyt. Onbeholpenheid met die kolf het hulle baie duur te staan gekom. Op 46 vir 3 was Wolseley nog in die wedloop, maar ’n dramatiese ineenstorting waar ses kolwers vir slegs 25 lopies geval het ná 23 boulbeurte was die laaste strooi. Geen kolwer kon werklik sy stempel afdruk en Wolseley is al ploeterend van die baanblad gevee.

Young Peoples het Wolseley se swakpunte deeglik uitgebuit met Noah van Niekerk (10-2-31-3), Buran Julies (4-1-12-2) en Christo Philander (3-2-2-5) wat onder die kolwers baljaar het om Young Peoples baie gemaklik met 76 lopies en ’n bonuspunt laat wen het.

In die Paarl het Wolseley se tweede span Young Peoples met 4 paaltjies geklop. Young Peoples se 142 na 40 boulbeurte is goed aan bande gelê deur Wolseley se Ashwell Hendricks (4/35), Adrian Cupido (2/32) en Shaheen Pietersen (2/6). Wolseley was 145 vir 6 ná 39 boulbeurte en het die wenteiken met 4 paaltjies staande bereik met Enrick Tromp 48 (4×4) en Emelio Snell 36 (3×4), wat skaflik bygedra het. Vir Young Peoples het Chesswill Jampies (2/36) en Leethen Cupido (2/12) met die bal uitgeblink.

Terwyl die eerste span se seisoen verby is, sluit Wolseley se tweede span sy seisoen af die komende Saterdag teen Bergrivier se tweede span.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article