Wolsley-rugbyklub het Saterdag (6 Mei) ’n merkwaardige oorwinning van 21-18 oor Roses United van Wellington aangeteken.
Hiermee het Wolseley byna die onmoontlike vermag om Roses vir die eerste keer in ’n Grootuitdaagbeker-wedstryd tot oorgawe te dwing en terselfdertyd sy eie veldtog ’n geweldige hupstoot te gee.
Teen rustyd het Wolseley ’n geringe voorsprong van 9-8 geniet met ’n gespanne skare wat nie geweet het hoe die wedstryd sal verloop nie.
Die span se goeie spelpeil en skeppende vermoëns het vir een van hul beste oorwinnings in jare gesorg, en dit teen een van die gedugste spanne in Boland-rugby.
Wolseley het dit met uitstekende balans en tegniek gewys nadat Regan Fredericks (kaptein), Bevan Schoeman (haker), Shadin Pietersen (flank) en Marlon Bailey (stut) Roses tot in hul fondamente geskud het. Agterlangs het Nathan van Wyk, Curtley Cedras, Curtley Malgas, Henrico Maurice, en Jose Erasmus kop en skouers bokant Roses uitgetroon.
Roses het ook sy oomblikke gehad, maar hom keer op keer teen ’n muur Wolseley-spelers vasgeloop.
Vir Wolseley het Rudmar Matjan en Maurice drieë gedruk, wat deur Keenen Waterboer verdoel is. Cedras het drie netjiese strafdoele oorgeskop.


