Dit het maar broekskeur gegaan, maar die Wolseley-rugbyklub het sterk karakter getoon voordat hy ’n vasberade Ceres die afgelope Saterdag tot oorgawe gedwing het.
Die Witsentraal-wedstryd, wat Wolseley 17-13 gewen het nadat hy rustyd 7-10 agter was, het nooit werklik aan die verwagtinge voldoen nie.
Daarvoor is te veel skoolseunfoute gemaak, wat die vloei van die wedstryd belemmer het. Wolseley, wat die eerste helfte teen ’n sterk bries begin het, het Ceres van meet af aan onder geweldige druk geplaas.
Wolseley was veral in die skrums eenvoudig verwoestend op sy eie bal – sowel as dié van Ceres – en het soms meters ver met Ceres se pak geloop. Daardeur het Wolseley hom van goeie balbesit en gebiedsvoordeel verseker, maar talle kanse op punte met ongedwonge foute verspeel.
Agterlangs het die visie ontbreek en was die hantering ook nie so suiwer nie, tog het die vonds van die seisoen tot dusver, die skrumskakel Brandon Williams, weer eens sy waarde beklemtoon. Sy flinke diens en sy oog vir ’n gaping het Wolseley telkens oor die voordeellyn gekry. Hoewel Wolseley al die speelwerk gedoen het, was dit Ceres wat die telbord aan die gesels gehou het. ’n Netjiese langafstand-strafdoel deur die invloedryke William van Wyk, wat ’n goeie wedstryd beleef het, en ’n drie teen die verloop van die spel deur Avril Smith, wat ewe netjies deur Van Wyk uit die hoekie verdoel is, het Ceres ondanks sy gesukkel voorlangs in ’n gunstige posisie geplaas.
’n Strafdrie aan Wolseley nadat Ceres telkemale onder die druk van die Wolseley-skrum geswig het, het Wolseley teen rustyd ligter asem laat haal.
Die tweede helfte was basies ’n voortsetting van die eerste met Wolseley wat sy verwoestingswerk voortgesit het sonder om enige voordeel vir die moeite te kry. Die tuisspan het wel die eerste punte van die tweede helfte aangeteken danksy ’n pragtige strafskop deur die ervare Henrico Maurice, wat die telling tot 10 elk te staan gebring het met nog heelwat tyd oor.
’n Netjiese strafdoel teen die wind deur William van Wyk het die telling tot 10-13 in die guns van die besoekers geneem. Wolseley se dag is egter kort hierna gered met die keerpunt van die wedstryd toe die vlugvoetige spoedvraat Curtley Malgas met uitstekende voetwerk Ceres se verdediging laat lug gryp het en ná nog ’n paar vinnige aangeë die flambojante Neugan Fredericks op skouspelagtige wyse laat afrond het.
Die heelagter, Keenen Waterboer, het ’n moeilike doelskop pragtig uit die hoek verdoel. Die spel het vir die laaste paar minute heen en weer oor die veld beweeg, maar uiteindelik was dit Wolseley wat net genoeg gedoen het om sy eerste wedstryd van die seisoen 17-13 te wen.
In die voorwedstryde het Wolseley B 8-3 teen Ceres B gewen, terwyl Wolseley se C-span die span van Ceres 19-5 oorrompel het.. In ander wedstryde in die streek het Bella Vista 24-22 teen Delicious in sy derbywedstryd geseëvier.
Bella Vista ontvang hierdie Saterdag besoek van Wolseley terwyl Delicious Roses United in Wellington moet gaan aandurf, wat op sy beurt Hillcrest United 31-15 getroef het.
Hamlet, wat Newtons 56-37 afgestof het, speel gasheer vir die gekweste Hillcrest. Temperance van Gouda, wat sy tweede wedstryd van die seisoen 31-18 teen Tulbagh in Tulbagh gewen het, speel gasheer vir Newtons.
Evergreens Paarl, wat ’n loslootjie geniet het, huisves Tulbagh terwyl Ceres ’n loslootjie van sy eie gaan geniet komende naweek.



