Wolseley se sportterrein was Saterdag behoorlik gepak toe die Wolseley-rugbyklub Hillcrest ontvang en die besoekers met 22-19 uitoorlê het.

Wolseley het voor ’n opgewonde skare ondanks sy gewig- en lengteverlies ’n goeie wedstryd gespeel, waar die agttal hulle deeglik van hul taak gekwyt het.

Dit moes vir Hillcrest ’n bitter pil wees om te sluk omdat hulle die voorlopers in die witsentraalstreek was, maar daardie titel moes neerlê.

Wolseley se grondslag is vroeg gelê toe die agttal hom deeglik van sy taak gekwyt en Hillcrest se agterlyn onder druk teen Wolseley se agterlyn gehou het.

Dit was veral agterlangs waar Nathan van Wyk (skrumskakel) en Curtley Cedras (kavalier) met uitstekende spel beïndruk het.

Enrico Mauriece (heelagter) was in ’n klas van sy eie waar hy ’n pragtige skepdoel losgeslaan het. Hillcrest, aan die ander kant, kon nie werklik sy ritme vind nie, want daarvoor was Wolseley té veel op die aanval.

Hoewel Hillcrest soms met die bal in die hand gevaarlik was, was sy spelers nie klinies genoeg in die uitvoering van hul opsies nie.

Wolseley, daarenteen, was meer bedees, wat Hillcrest onkant gevang het.

Wolseley het sy oorwinning deur en deur verdien omdat hy nooit toegelaat het dat die groot oomblik hom enigsins oorskadu nie.

Cedras het vier strafdoele vir Wolseley oorgeskop, terwyl Van Wyk ’n drie verdoel en Maurice met ’n netjiese skepdoel geslaag het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article