As Saterdag se rugbywedstryd op Wolseley teen die hoog aangeskrewe Hillcrest van Wellington enige aanduiding is wat die komende seisoen in die Witsentraal van die groot uitdaag te wagte kan wees, is die verhoog opgestel vir ’n opwindende seisoen met harde rugby.
Wolseley en Hillcrest het Saterdag hul voorbereiding vir die komende seisoen ’n stappie verder geneem met Wolseley wat gasheer vir die uiters gedugte Hillcrest gespeel het. Hillcrest, een van die avontuurlustige spanne in die Witsentraal, het gou van hom laat kennis neem en die tuisspan vroeg met aanvallende spel, ten spyte van ’n sterk wind van voor, onder druk geplaas.
Hillcrest se algehele spel voorlangs was goed terwyl hy agterlangs ook vol energie was. Soos teen Bella Vista, was dit hier ook ’n geval van Hillcrest se krag en ervaring teenoor Wolseley se jeug en opportunisme, maar weer eens het Wolseley se jong turke hul man deeglik gestaan. ’n Paar positiewe skuiwe deur die uitgeslape Wiley Seroot het nie net die momentum van Hillcrest gestuit nie, maar ook die gang van die wedstryd verander. Wolseley het sy krag veral voorlangs in die skrums geopenbaar. In die lynstane het dinge maar gelol in die winderige toestande en terwyl die hanteerwerk ook nie altyd suiwer was nie, het die spanne nie geskroom om die bal lug te gee nie.
Hillcrest het baie goeie balbesit en veldgebied geniet, maar was nie klinies genoeg in die uitvoering van sy opsies nie. ’n Gebrek aan deurdringendheid tesame met rotsvaste verdediging deur Wolseley het ook nie juis dinge vir Hillcrest maklik gemaak nie.
Hoewel Hillcrest soms al die speelwerk gedoen het, het Wolseley die telbord aan die gang gehou deur die min kanse wat hy gekry het met albei hande aan te gryp. Wolseley het hom met die rustydtelling 24-12 in ’n gunstige posisie bevind met die uitdaging van ’n sterk wind van voor, wat wagtend was.
Die tweede helfte het dieselfde patroon as die eerste gevolg met die spanne wat mekaar met mening gepak het. Hillcrest, dié keer met die wind van agter, het Wolseley met skoppe in sy halfgebied probeer vaspen. Wolseley het egter ’n stokkie daarvoor gesteek en Hillcrest deeglik met teenaanvalle op die verdediging getoets. Twee drieë deur Hillcrest ná volgehoue druk het hom 26-24 laat voorloop. ’n Strafdoel deur Henrico Maurice het Wolseley, met bitter min speeltyd oor, met ’n punt verby Hillcrest laat skuif. Pogings deur albei spanne het misluk weens oorgretigheid en rotsvaste verdediging aan albei kante. Die eindtelling was 27-26 in Wolseley se guns.
Die name van die puntemakers was ongelukkig nie beskikbaar nie, maar Wolseley het vier drieë gedruk, waarvan twee verdoel is, en een strafdoel aangeteken. Hillcrest het ook vier drieë gedruk, waarvan drie verdoel is.


