Wolseley se krieketklub het Saterdag (28 Januarie) teen De Wet Landelike Krieketklub van Worcester gespeel en met 10 paaltjies en 44 boulbeurte gewen.
De Wet Landelike KK het eerste gekolf nadat hulle die loot gewen het en was met hul telling van 89 vir vyf nog redelik in die prentjie. Hulle het daarna lelik in duie gestort toe hulle die laaste vyf paaltjies vir slegs 11 lopies verloor het en met 100 lopies in 27.3 boulbeurte uitgeboender is in ’n kolfbeurt wat net twee ure geduur het.
PJ Daars 43 (4×3 – 6×1), Nathan Loff 19 (4×2 – 6×1) en Alverno Sylvester 16 (4×3) was die beste kolwers van die wedstryd, en Ravel Prins (2.3-0-6-4) Wilbur Pietersen (6-2-11-2), Franklin Mars (5-1-15-2), en Jacques Esau (7-0-31-2) was die beste boulers.
Wolseley, wat ná ’n vervroegde middagete en in winderige toestande begin kolf het, het met ’n onoorwonne vennootskap van 103 lopies tussen Rashied September 26 (4×1) en Jaden Swarts 67 (4×9 – 6×1) met ’n dominerende vertoning die kersie op die koek geplaas en hul span maklik binne 16.3 boulbeurte in slegs 70 minute ’n bonuspunt-oorwinning in die sak gebring.
Terwyl September die ankerrol vervul het, was dit Swarts wat die kalklig gesteel het met goeie tydsberekening en ’n wye verskeidenheid van houe wat ’n groot indruk gemaak het.
Daarmee het Wolseley ’n lang droogte gebreek en vir die eerste keer in ’n lang tyd gewen, wat goed vir die span se moraal sal wees.


