Die Wolseley-krieketklub het Saterdag letterlik uit die kake van ’n nederlaag ontsnap toe hy Bergrivier KK, die voorlopers in die Promosieliga-Wes- afdeling, op dramatiese wyse met twee lopies geklop het.

Bergrivier, wat die teiken gestel is om 160 lopies aan te teken om die wedstryd te wen, was op 151/9 met nog 30 balle feitlik op die randjie van ’n oorwinning.

Dit was egter Rashied September van Wolseley wat Bergrivier se drome verydel het toe Ryan Bird, wat hardnekkig met 35 lopies van 88 balle vasgekap het, hom met ’n perfekte streepbal pens en pootjies skoongeboul het om sy span die wedstryd op skouspelagtige wyse te laat wen.

Garren Pietersen (28) en Jonnewyn Pietersen met 23 lopies was die ander Bergrivier-kolwers wat hul span binne bereik van Wolseley se totaal geplaas het. Shaheen Pietersen (4/25), Janeco Adams (2/31), Jacques Esau (1/36) en Rashied September (1/3) was die Wolseley-boulers wat Bergrivier se sterk kolflys in toom gehou het.

Vroeër is Wolseley, wat besluit het om eerste te kolf, tot ’n beskeie 159/7 in sy toegelate 50 boulbeurte beperk. Durran McClune (34), José Erasmus (33), Jaden Swarts (32) en Rashied September (25) het ondanks goeie boulwerk deur Bergrivier se Marcelle Dampies (3/16) en Ashwill de Vries (2/13) nogtans die telbord aan die gang gehou, maar moes nietemin hard werk vir hul lopies. . Wolseley speel Saterdag (7 Desember) in Worcester in die Boland se Superliga- T20- kwalifiserende kompetisie waar hulle saam met Worcester Victorians, Touwsrivier en Tulbagh Pioneers ingedeel is. Die tweede ronde van die Promosieliga word op 11 Januarie hervat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article