’n Bergbrand wat die afgelope paar dae al in die Wolseley-area woed, word onverpoos deur bestryders geveg.

Verskeie grond- en lugondersteuningspanne van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se branddienste en CapeNature is tans besig om ‘n brand in die berge bokant die Boontjieskraalpad net langs die R46 buite Wolseley te bestry.

“Die brand is baie hoog in die berge geleë en is ontoeganklik is vir brandbestrydingsvoertuie. Grondspanne van beide organisasies en lugsteun vanaf die Provinsiale Rampbestuursentrum is vanoggend (9 Januarie) ontplooi. Toegeruste 4X4’s is gebruik om grondspanne en hul toerusting so na as moontlik aan die brandlyn te vervoer, maar spanne moes steeds ‘n redelike afstand stap of voetslaan voordat hulle die lyn bereik het,” verduidelik woordvoerder van die KWDM, Jo-Anne Otto.

Die plantegroei in die veld waar die brand ontstaan het, is sowat 15 jaar oud.  Gewoonlik sou die brand net gemonitor word om te verseker dat die inheemse plantegroei, wat meestal uit proteas opgemaak is en wat ‘n brandgedrewe ekologie is, sy natuurlike verloop kan volg. Daar egter is verskeie uitdagings met betrekking tot die brand se nabyheid aan Eskom-kragdrade, ‘n natuurreservaat en landbougrond. Brandspanne sal hulle daarop toespits om die brandlyn weg te draai van die Eskom-drade en dit te probeer dryf in die rigting van Ceres waar dit, weens ‘n tekort aan brandstof, vanself sal uitbrand. 

“Die ongelyke, moeilike terrein gekombineer met die voorspelde warm weer sal verseker ‘n uitdagende dag vir grondspanne bied, dit gaan van kardinale belang wees om genoeg vloeistowwe in te neem.

 Daar is tans altesaam 42 grondspanlede en lugpersoneel teenwoordig.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article