Die Wolseley-rugbyklub se A-span het die afgelope Saterdag (1 April) vinnig sy Witsentraal-Grootuitdaagbeker-veldtog op koers gekry toe hy Miracles 29-12 uitoorlê het nadat hy teen rustyd 17-0 voorgeloop het.

Miracles, wat groot verwagtinge vir die wedstryd gehad het, is takties deur Wolseley uitoorlê.

Miracles het die eerste skote afgevuur deur Wolseley met sy swaar pak voorspelers die skrik op die lyf te jaag.

Die eerste kwart van die wedstryd was maar ’n voel-voel-besigheid totdat Wolseley werklik tot aksie oorgegaan het.

Wolseley het die ys op skouspelagtige wyse gebreek toe hy Miracles se verdediging oopgevlek het vir ’n drie reg langs die pale en dit suksesvol verdoel het.

Van daar af het Wolseley sy Miracles-teenstanders met uitstekende spel soos passasiers laat lyk.

Voorlangs het Wolseley sake stewig begin vasvat met die kaptein, Reagan Fredericks, wat pragtig van voor gelei het, gevolg deur die invloedryke Charlon Snyders en die res van die troepe.

Wolseley het sake in die skrums oorheers en soms meters met Miracles se swaar pak geloop.

Die lastige windjie het sake in die lynstane erg bemoeilik.

Die skrums wat gevolg het, het Wolseley soos ’n handskoen gepas en hy het Miracles met uitstekende tegniek erg verleë gelaat.

Agterlangs het een van die vondste van verlede jaar, Curtley Cedras, ’n welkome terugkeer tot Wolseley-rugby gemaak, waar hy die toutjies getrek het. Sy ervaring en wonderlike aanvoeling vir die spel het die vonk onder die res aangesteek. Sy goeie balans, balverspreiding en lynskoppe was goud werd.

Langs hom het Rudi Jumath in sy eie spel floreer terwyl die twee spoedvrate Curtly Malgas en Clarence Malan Miracles soos beginners laat lyk het.

’n Drie deur die blitsige Jumath, toe hy met brute krag en spoed deur Miracles se verdediging gebreek het, is deur die heelagter en speler van die wedstryd, Keenen Waterboer, verdoel.

’n Langafstand-strafdoel van meer as 55 meter deur Waterboer het Wolseley teen rustyd 17-0 in ’n gunstige posisie geplaas.

Die tweede helfte het basies dieselfde patroon as die eerste gevolg met Wolseley wat al die toutjies getrek het en Miracles wat duidelik moeg begin word het. Wolseley het sy voorsprong verder vergroot toe Charlon Snyders ná nog ’n sterk skrum Miracles se verdediging met krag en spoed laat stilstaan en ’n pragdrie gedruk het, wat die telling na 22-0 geneem het nadat die doelskop mis was.

’n Drie deur Miracles het sy aansien ’n hupstootjie gegee, maar dit was van korte duur. Hoewel hy sy kwota balbesit gehad het, was die span te voorspelbaar.

Wolseley het sy indrukwekkende vertoning op skouspelagtige wyse afgesluit toe Waterboer Miracles se verdediging soos ’n waenhuisdeur laat oopgaan en met ’n groot gejuig onder die pale oorgegaan het vir ’n drie, wat hy self verdoel het, om die telling na 29-5 te neem.

’n Drie in die doodsnikke kon nie Miracles se eer red nie, en die eindtelling het op 29-12 gestaan.

Rugby in hierdie geweste neem ’n breek vir Paasfees en hervat aanstaande Saterdag (15 April).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article