Die manne van Ultra-Mal is Sive Mdabuli, Tertius Nieuwoudt , Wayne Lesch , Dillan Van Wyk en Hanno Ellof.

Slegs ‘n jaar nadat hulle saam begin optree het, is ‘n punk/hiphop-groep van Worcester deur na die eindronde van die Taalgenoot se Ruk en Rym-kompetisie, wat hierdie naweek beslis word.

Ultra-Mal, bestaande uit Sive Mdabuli (kletsrymer/sanger), Wayne Lesch (screamer/sanger), Hanno Eloff (baskitaar), Tertius Nieuwoudt (kitaar) en Dillan Van Wyk (kitaar), het eers in Januarie vanjaar as ‘n groep bymekaargekom.

Volgens Sive het hul liefde vir musiek hulle bymekaargebring, hoewel elkeen verskillende smaak en genres het waarvan hy hou.

“As musikante was die idee om eers te sien hoe ons dit alles bymekaar kan smelt deur nog verskillende klankelemente by te voeg, en toe kom dit Ultra-Mal uit.”

Die Taalgenoot- Ruk en Rym- kompetisie is ‘n alternatiewe musiekkompetisie [musiek wat nie hoofstroom is nie] vir Afrikaanse skrywers in enige genre.

Sive sê vanjaar het ‘n rekordtal 93 inskrywings landwyd opgelewer, waarvan slegs 20 finaliste na die halfeindronde, wat in twee rondes opgedeel is, deurgedring het. “Ons het in die eerste halfeindronde in Stellenbosch by die Daisy Jones Bar deelgeneem en halfeindronde 2 was in Johannesburg.

Ultra-Mal op die verhoog in die Daisy Jones Bar in Stellenbosch met die halfeindronde van die Taalgenoot Ruk en Rym-kompetisie. Die eindronde vind Sondag (12 Oktober) plaas.

“As ‘n band is dit ‘n tradisie, ‘n rite to passage, om aan ‘n battle of the bands deel te neem. Behalwe die geleenthede wat die kompetisie bied, wou ons al ons eienskappe en vlakke van kreatiwiteit as ‘n band saam sien en hoe ons na ‘n doel toe kan werk. Ons is nog net ‘n jaar saam, dus was dit die perfekte geleentheid om dit te sien en dit is hoekom ons ingeskryf het.”

Hulle was baie opgewonde om te hoor dat hulle na die eindronde deurgedring het, wat Sondag (12 Oktober) by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch plaasvind. Dit begin om 11:30.

Jack Parow is die gaskunstenaar en een van die beoordelaars. Die wenners stap weg met pryse wat onder meer ateljeetyd, musiekvideo’s en optredes insluit.

“Ons is baie trots op mekaar, want om ‘n musikant te wees, is baie harde werk – veral in ‘n band waar almal hulle eie views het en moet werk om ‘n common ground te vind en tot op ‘n besluit te kan kom. Dit vat ook baie tyd en geduld. Nie almal is bevoorreg om musiek te kan maak nie, dus is dit nie iets wat ons baie ligtelik vat nie. Met dit alles is dit baie rewarding om ‘n eindronde in so ‘n groot kompetisie soos Ruk en Rym te haal en om vir die res van Suid Afrika te kan wys hoe woes Worcester rêrig is.

“Ons strategie is om ons beste te gee en onsself te geniet. Ons sal ook baie graag mense van Worcester in die gehoor wil hê,” sê Sive.

• Besoek quicket.co.za vir kaartjies teen R250 of teen R280 by die deur.

• Volg die groep op Instagram by @ultramal_band om van hul musiekreis op hoogte te bly.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article