’n Hartroerende verhaal van oorlewing en hoop het onlangs in die hartjie van die Overberg aan die lig gekom.
Johannes, ’n dapper hond wat eens op straat en onder haglike omstandighede geleef het, is nou gereed om sy “vir ewig”-huis te vind.
Johannes se pad na herstel het in 2021 begin toe hy deur die regte mense opgetel is.
“Die dag het soos gewoonlik begin met ’n paar klagtes en noodgevalle. Op pad na die eerste oproep het my oog hierdie bruin-kleur-beweging in die lang gras gevang, op soek na kos. Ek het remme aangeslaan en uitgeklim. Ek het nader gestap en my hart het in my keel begin klop. ’n Benoude jong hond het my met ’n stert tussen sy bene begroet. Ek was kwaad en hartseer. Die liggaam was net vel en been,” vertel George Schietekat, voorsitter van die Overberg-dierewelsynvereniging.
Hy het toe rondgevra om uit te vind aan wie die hond behoort. Hy het die huis opgespoor, tesame met nog ’n vel-en-been-hond wat aan ’n ketting vasgemaak was en ander wat rondhardloop. Uiteindelik het hy later dieselfde dag met die eienaar gepraat.
“Met my aankoms het ’n jong vrou uit die huis gekom. Ek het toe met gemengde gevoelens met haar begin praat – kwaad, maar steeds met begrip vir hul omstandighede. Sy het my ingelig dat sy nie werk nie, en probeer haar bes om al die honde kos te gee, maar bly net nie voor nie. Sy het ingestem om twee honde aan my af te teken en ek het onderneem om haar saam met die ander te ondersteun. Ons het die hond wat aan die ketting was, opgelaai en ook die bruin, maer een.”
Ná ’n jaar is Johannes na sy pleegfamilie in Gordonsbaai waar hy met baie liefde en versorging as’t ware uit sy dop geklim en ’n liefdevolle hond geword het. Hy is een van 12 honde wat saam by ’n private hondeversorger gewoon het. Almal, behalwe Johannes, is al deur liefdevolle gesinne aangeneem.
“Sy pleegfamilie is lief vir hom, maar met hul eie troeteldiere en boonop ’n nuwe baba kan hulle hom nie permanent aanneem nie,” verduidelik Danica Palvie, wat ook by die dierewelsynorganisasie werk. Sy is vasberade om ’n liefdevolle huis vir Johannes te vind, want die alternatief – om ’n moeilike besluit oor sy toekoms te neem – is iets wat niemand wil hê nie.
Johannes is beskryf as ’n uiters liefdevolle en vriendelike hond wat goed oor die weg kom met ander honde en kinders. Hy is die perfekte cuddle-buddy en speel nog graag, al is hy soms ’n bietjie skrikkerig en neem hy tyd om aan nuwe mense gewoond te raak. “En sy DNS is 100% straathond,” voeg Palvie by.
Enigiemand wat belangstel om Johannes ’n liefdevolle huis te bied, kan Danica Palvie kontak deur ’n WhatsApp-boodskap te stuur na 079 136 9801 of e-pos aan danicapalvie@yahoo.com.
Tuisbesoeke sal gedoen word om te verseker dat Johannes na ’n veilige en liefdevolle omgewing gaan.
Hierdie storie van oorlewing en hoop is ’n kragtige herinnering aan die belangrikheid van dierewelsyn en die verskil wat ’n liefdevolle huis in die lewe van ’n dier kan maak.





