Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, het vandeesweek met senior amptenare van die departement van plaaslike regering en die Witzenberg munisipale raad vergader om uitdagings en langtermynoplossings vir die waterprobleme in die munisipaliteit te bespreek.
“Munisipaliteite regoor die provinsie staar die uitdagings van verouderende infrastruktuur en vinnig groeiende bevolkings in die gesig. Die verskaffing van watersekuriteit aan inwoners bly ‘n topprioriteit, en dit kan slegs deur langtermynbeplanning, harde werk en noukeurige begroting bereik word,” het Bredell gesê.
Die Burgemeester van Witzenberg, Trevor Abrahams, het bevestig dat die munisipaliteit daartoe verbind is om gehalte dienste aan alle inwoners in die gebied te lewer.
“Ons erken die uitdagings wat die Tulbagh-gemeenskap ervaar en werk aktief saam met alle relevante departemente en belanghebbendes om te verseker dat hulpbronne doeltreffend gebruik word om diensleweringskwessies aan te spreek. Deur sterker samewerking en deursigtige kommunikasie sal ons volhoubare oplossings nastreef wat die lewensgehalte van ons inwoners verbeter.”
Bredell het verseker dat Tulbagh se drinkwater veilig is vir verbruik. Beide die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit en die Witzenberg-munisipaliteit het onafhanklike voldoeningstoetse uitgevoer om dit te bevestig.
Die verkleuring van die drinkwater, waaroor sommige inwoners besorg is, word veroorsaak deur die natuurlike sedimentasieproses van Tulbagh se Waverenskroon Dam, wat in 2023 gebou is en steeds stabiliseer. Die munisipaliteit het ingegryp deur hul bestaande sandfilters te herstel en ’n nuwe hoëdrukfiltrasiestelsel te installeer, wat hul waterbehandelingsvermoë sal verbeter.
Verder het die munisipaliteit tien werkers aangestel deur die uitgebreide openbare werke program (EPWP) om te help met ’n skoonmaakprojek in Tulbagh, met spesifieke fokus op gebiede rondom waterlope en waterinfrastruktuur.
Die Departement van Plaaslike Regering ondersteun Witzenberg-munisipaliteit met die ontwikkeling van ’n reaksieplan om die huidige uitdagings aan te spreek, sowel as langtermyninisiatiewe om watersekuriteit en -gehalte vir inwoners in die toekoms te verseker.



