Andrea Andrews (regs) is as Speler van die Jaar aangewys en Lenice Louw is met die Sportvrou van die Jaar-toekenning vereer. Albei spelers is by Bella Vista-netbalklub betrokke. Foto:


Die Witzenberg-subdistrik se netbalvereniging het hul jaarlikse prysuitdelingsdinee Saterdag 26 November in ’n stampvol Bella Vista-gemeenskapsaal gehou.

Hierdie jaar het die netbalunie bogemiddelde suksesse behaal en was die georganiseerde netbalspanne in die Witzenberg wyd verteenwoordig. Klubs van die Koue Bokkeveld en Agter Witzenberg asook spanne in Ceres (Bella Vista), Prince Alfred’s Hamlet en Wolseley (Pine Valley en Montana) maak almal deel van die subdistrik se deelnemende spanne uit. Die getal klubs in die onderskeie A- en B-ligas was baie mededingend en die bestuur is opgewonde oor die vooruitsigte dat meer spanne dalk in 2023, in ’n Netbalwêreldbeker-jaar, kan aansluit.

Hierdie unie speel tans onder die vaandel van die Cape Winelands Netball Federation as sentrale beheerliggaam vir netbal in die streek.

Die enigste uitdaging wat die sportkode in die toekoms mag ervaar, is die moontlike tekort aan behoorlike en genoegsame netbalbane om die bykans twintig klubs te kan huisves vir oefeninge, toernooie en ligawedstryde. Die bane is gevandaliseer en herstelwerk en nuwe aanbrenging is reeds aan die gang by verskeie fasiliteite in die streek, en in hierdie verband maak die netbalunie veral staat op die samewerking van die Witzenberg-munisipaliteit en die Witzenberg-sportraad.

Volgende jaar is die Netbalwêreldbeker in Kaapstad en Witzenberg-netbal wil hierdie geleentheid benut om meer bewusmaking te skep by skole en meer spesifiek in landelike gemeenskappe, om sodoende ’n netbalkultuur aan te wakker maar ook om die sportkode se ontwikkeling hier te bevorder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article