Terwyl die res van Boland-streek reeds die afgelope naweek met hul amptelike verpligtinge om die Boland-grootuitdaag-reeks begin het, is dit die Witsentraal-streek wat eers komende Saterdag aan die beurt kom wanneer die room van dié streek se spanne mekaar die stryd aansê.
Witsentraal is sekerlik ’n krag in eie reg en het al verskeie jong, belowende spelers vir Boland-Kavaliers opgelewer.
Toeskouers kan dus uitsien na ’n seisoen propvol opwinding en om weer hul helde ná bykans twee jaar van afwesigheid terug te welkom.
In Paarl wag ’n uitdagende vooruitskouing op Evergreens, wat sy terugkeer na die liga maak deur gasheer te speel vir die verdedigende kampioen in die streek, Hamlet.
Hamlet se vreeslose styl maak hom ’n gunsteling in dié stryd. Evergreens, aan die ander kant, sal sekerlik sy beste voetjie voor wil sit om reeds vroeg ’n indruk te maak.
Delicious begin sy veldtog met ’n tuiswedstryd wanneer hy die nimlike Wolseley die stryd aansê. Wedstryde tussen dié twee buurdorpe het nog altyd goeie uitslae vir albei spanne opgelewer. Die spanne sal dus gretig wil wees om die seisoen op ’n wen-noot af te skop.
In Ceres speel die tuisspan gasheer vir die vlugvoetige Hillcrest United. Hillcrest se avontuurlustigheid het hom al baie sukses in die sakkie gebring en Saterdag behoort geen uitsondering te wees nie.
Ceres se tuisvoordeel kan hom ’n hupstoot gee, maar hy sal met die moed van oortuiging moet speel om die woelige besoekers in toom te hou.
Newtons, nog ’n moeilike kalant op sy tuisveld, speel gasheer vir ’n gedugte Bella Vista.
Laastens woed ’n interessante stryd in Tulbagh, die gasheer vir die voormalige kampioene in die streek, Roses United.
Roses, wat pas die Saldanha se Top 8-toernooi gewen het, toon reeds vroeg tekens van sy ou self, en dit voorspel niks goed vir die tuisspan nie.
Tulbagh het wel ’n gewigtige taak wat op hom wag, maar as hy ook met die moed van oortuiging gaan speel, bestaan geen rede waarom hy nie die kop kan lig om hierdie historiese dorpie weer trots te maak met ’n wedstryd propvol opwinding en opportunisme nie.
Die nuweling in die Witsentraal, Temperance van Gouda, geniet ’n loslootjie.


