Worcester Villagers (Villa) se spelers probeer hard keer dat Saldanha gaan druk.Foto: Luciano du Toit


Rugbygeesdriftiges het Saterdag (26 Februarie) in hul hordes na Bolandpark opgeruk om die lang verwagte stryd tussen twee van Boland se reuse – 2018 se Boland-kampioene, Worcester Villagers (Villa), en die 2019-kampioenspan, Saldanha – te aanskou.

Alles was boonop die moeite – en wag – werd, want aan opwinding en spanning het dit gewis nie ontbreek nie. Dit was juis die laaste skop van die dag wat die uiteindelike wenners van die wedstryd bepaal het, met Saldanha wat koning gekraai het met die eindtelling op 41-39.

Die wedstryd het op ’n positiewe noot vir die besoekers afgeskop toe sy haker, Jurie Latief, sommer in die vierde minuut ná volgehoue druk oorgegaan en die skrumskakel, Jayden Cloete, verdoel het om Saldanha met 7-0 te laat voorloop.

Die voorsprong was egter van korte duur, want net hierna het die binnesenter, Zeke Jansen, skerp gebreek, maar toe hy voorgekeer word, was sy vlugvoetige sentermaat, Jeenewil April, by om onder die pale af te rond. Met die doelskop deur hul losskakel, Yazeed Johnson, ’n blote formaliteit, was die twee spanne gelyk met sewe elk. Kort hierna het Villa sy neus voor gekry toe sy heelagter, Larren Buys, met ’n strafskop slaag. Die einste April het hierna skitterend weggebreek en weer onder die pale afgerond. Johnson se doelskop was oor en Villa se voorsprong het tot 17-7 gegroei.

Villa is egter ’n gevoelige slag toegedien toe sy regtervleuel, Givan Adams, die veld weens ’n besering moes verlaat. Sy plaasvervanger, Yushaan van der Merwe, het egter gou sy voete gevind en die aandag met sy doelgerige hardloopwerk getrek. Een so ’n lopie het op ’n drie deur sy vleuelmaat Chad Horne uitgeloop, wat Johnson ongelukkig nie kon verdoel nie.

Kort voor rustyd het Saldanha se plaasvervanger-skrumskakel, Gerrith Gertse, oorgeduik en sy plaasvervanger-heelagter, Girsh Gurah, het verdoel (telling met rustyd: 22-14 in Villa se guns).

Kort ná rustyd het Villa se voorsprong verder gekrimp toe sy reserwe-haker, Archie Mac Galla, oorgaan en Gurah verdoel. Villa het egter weer beheer geneem toe Horne ná ’n volle agterlyn-beweging in die hoekie oor is. Johnson se doelskop het egter die regoppaal getref. Saldanha het met ’n vervyfde drie deur Gurah geantwoord om die besoekers 28-27 te laat voorloop. Nog ’n onvervyfde drie deur die losskakel, JD Coetzee, het die besoekers se voorsprong tot 33-27 gerek.

Villa het met ’n oorstootdrie geantwoord met die stut Barend Stander en die slot Morné Boshoff prominent in die beweging. Buys se doelskop het ongelukkig die linker-regoppaal getref.

Met die telling 32-33 in Saldanha se guns het die kaptein, Wayne Wilschut, gaan druk en Buys het verdoel om Villa 39-33 te laat voorloop. Die Baaienaars het egter nooit bes gegee nie en die flank Ronaldo Brown is hierna oor vir ’n onvervyfde drie om die agterstand tot een punt te krimp.

Met die uurglas wat leegloop, is ’n strafskop in beseringstyd aan Saldanha toegeken. Cloete, die skrumskakel, wat intussen weer sy verskyning op die veld gemaak het, het tot groot vreugde van veral sy groot ondersteuningskorps, wat al die pad uit die Weskus gekom het, geslaag.

. Villa 2 wen Saldanha B: 36-8 Villa 3 wen Saldanha C: 21-0

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article