’n Vrou van Worcester is in hegtenis geneem nadat sy na bewering inkopies by ’n plaaslike supermark wou gaps.

Credit: SYSTEM

Talle sake van winkeldiefstal word tans ondersoek ná verskeie voorvalle by plaaslike winkels en slaghuise in die dorp.

’n Plaaslike inwoner is Woensdag 10 Mei in hegtenis geneem nadat sy na bewering inkopies in sakke verdoesel het en uit ’n bekende supermark in die Mountail Mill-winkelsentrum daarmee gestap het.

AO Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie het die voorval aan Standard bevestig.

“Die vrou is in hegtenis geneem, maar op ’n waarskuwing vrygelaat. Sy moet Dinsdag 30 Mei in die plaaslike landdroshof op aanklagte van diefstal verskyn,” het Jacobs bygevoeg.

Standard het na die supermark uitgereik, maar navrae is steeds onbeantwoord.

’n Betroubare bron het aan Standard genoem dat die vrou inkopies in bruin papiersakke van ’n ander winkel in dieselfde winkelsentrum ingepak het, maar veiligheidswagte het haar betrap.

In ’n ander voorval vroeër vandeesmaand is ’n bejaarde man ook betrap toe hy produkte by ’n bekende supermark in die middedorp gesteel het.

’n Bestuurder by die winkel, wat verkies dat hul naam nie genoem word nie, het aan Standard verduidelik die man is laat gaan, maar ook die winkel belet. Produkte soos vleis, groente en sanitêre produkte is in sy besit gevind.

“Geen saak is aangemeld nie,” het Jacobs genoem.

Hoogstraat Vleismark het in Desember verlede jaar ’n videogreep op sosiale media gedeel en inwoners gevra om te help soek na twee vroue wat op kringtelevisiekameras betrap is dat hulle vleis uit die vrieskaste steel.

Standard het in Oktober verlede jaar berig oor ’n bejaarde vrou wat ongeveer R650 se ware by die More Value-informele winkel naby Roodewal gesteel het.

Die eienaar, Sudesh Balitakan, het aan Standard gesê die vrou is ook daar belet en op waarskuwing laat gaan weens haar ouderdom.

“Ek weet mense sukkel geweldig en almal moet hul sente omdraai, maar dit gee niemand rede om te steel nie,” het hy destyds aan Standard genoem.

Die polisie sê by monde van Jacobs sulke oortredings is ernstig van aard en sake van winkeldiefstal moet altyd net soos gewone sake van diefstal hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article