Sondag 2 Oktober is Breedevallei-sokkervereniging se winterliga-halfeindstryd en -eindstryd gespeel.

View of Hope het sy halfeindstryd vroegmiddag teen Brave Defenders op Zwelethemba-turf gespeel. Hierdie wed­stryd het in baie goeie weer begin, maar net 10 minute die wedstryd in het Worcester se berugte wind opgekom en speeltoestande op ’n baie swak speel-oppervlak nog moeiliker gemaak.

Hope het die hele wedstryd die oorhand gehad, maar omdat die elemente teen die span was, kon niemand regtig sy stempel op die wedstryd afdruk nie. Die wedstryd eindig op 0-0 en het uitgeloop op strafdoele, wat Hope ongelukkig 4-5 verloor.

In die wedstryd om die derde en vierde plek te bepaal teen Eleven Experience het Hope tot sy reg gekom en sy gebruiklike man-tot-man- wedstrydplan uitgevoer. Dit was duidelik die spelers is meer vertroud met die speeltoestande, ten spyte van die wind.

Ridiwaan van Rooi, wat hierdie wedstryd op die ongewone posisie van doelskieter begin het, open ook som­mer vroeg in die wedstryd die telbord toe hy Experience se doelwagter met ’n goedgeplaaste doel klop (1-0).

Net 15 minute verby maak hy weer so en klop die doelwagter met ’n soortgelyke doel op ongeveer dieselfde plek (2-0). Dis ook die rustydtelling.

Na rustyd haal Hope sy voet van die pedaal en Experience kom sterk terug in die wedstryd. Die span bom­bar­deer Hope met aanvalle, maar is ongelukkig om nie die kol te tref nie. Met sowat 10 minute speeltyd oor kry Experience ’n strafdoel wat hy in punte omskep (2-1). In die laaste minute moes Hope keer vir ’n vale. Die eindtelling bly 2-1 in Hope se guns.

Die eindstryd vind plaas tussen Worcester City en Brave Defenders wat ook eindig met 0-0 en ook in hierdie wedstryd klop Defenders vir City met 5-4 van die strafmerk af, en Brave Defenders word die Winterliga- kampioen van BVLFA.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article