Die befaamde Augustus-wind het die afgelope twee weke nie net goeie reënval gebring nie, maar in die Vallei amok gesaai.
Twee huise, ’n onderneming se advertensiebord en ’n vragmotor het in die slag gebly toe die wind Woensdag 24 Augustus sterk in die vallei gewoed het.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het bevestig dat die wind in die Worcester-streek tussen 22:00 en 04:10 teen tussen 45 en 55 km/h uur gewaai het.
“Ons het seker so 21:00 se kant gaan slaap en die wind hoor aankom, maar nie veel daarvan gedink nie. Ek was kort-kort wakker, want die huis se vensters het behoorlik weens die sterk wind geruk. Ek het omtrent 01:30 ’n hengse slag gehoor. Dit het geklink asof iemand in ons huis vasgery het.”
Só vertel Martin Viljoen, ’n boer buite Worcester, wie se huis deur ’n boom getref is nadat die wind ’n spoed van sowat 50 km/h bereik het.
“Ek is dadelik uit om te kyk. Toe ek weer sien, het ’n boom ’n deel van die sitkamerdak verwoes. Alles was onder stof en die skade beloop sowat R15 000 om alles te herstel en te vervang. Selfs ons TV en een bank het ongelukkig seergekry.”
Wendy Arêndse, ’n inwoner van Riverview, sê sy het haar huis in 2021 klaar gebou en was baie trots op dié projek. Ongelukkig het die wind ook ’n boom op haar nuwe struktuur laat tuimel.
“Die skade is nie so erg nie. Alles binne staan nog, maar ek gaan ’n hele sinkplaat moet vervang en hout moet koop om dit reg te maak. Ek het so groot geskrik. Ek het die wind gehoor en dit het my bang gemaak, maar ek het nie dít verwag nie,” vertel sy aan Standard.
’n Groot advertensiebord by ’n bekende motorhandelaar in Hoogstraat het ook omgewaai, maar geen grootskaalse skade is veroorsaak nie.
’n Vragmotor het ook teen die sterk Worcester-wind verloor nadat die vragmotor net buite Rawsonville op die N1 omgewaai het.
Die polisie het die voorval bevestig en die toneel saam met verkeersowerhede beveilig.
Niemand is beseer nie.
Standard verneem die voertuig was van Limpopo op pad na Kaapstad.





