Die Brandvlei-hengelklub het sy 2023-prysuitdeling op 20 Januarie in die Dennebos gehou.
Danie Wilmot is as wenner in die algehele sowel as die veterane-afdeling aangewys en het boonop die meeste kompetisies gewen. Hy het ook die swaarste, ’n witvis van 0,480 kg, gevang.
Jacques van Graan het die meesters- afdeling gewen en derde algeheel geëindig. Hy het die meeste vis – 177 – met ’n massa van 176 kg altesaam ingeweeg. Boonop het hy die swaarste baber (9,520 kg) en swaarste karp (5,430 kg) gevang.
Hy en Kobus Kruger was ook lede van die Wes-Kaap-span wat ’n bronsmedalje in Korrektiewe Dienste se nasionale kampioenskap gewen het. Kruger is ook ingesluit in die nasionale B-span van Korrektiewe Dienste.
Megan van Graan is as vrouekampioen vereer en was tweede in die senior afdeling. Hier was Charl Ferreira derde en die wenner was Johan Coetzee. Megan is ook as kampioen in die vroue-afdeling van WP se Premierliga gekroon.
Piet Hugo en Johan Stander het onderskeidelik tweede en derde in die meestersafdeling geëindig. Hugo het ’n ope-rekord vir die klub met ’n witvis van 0,902 kg ingeweeg.
In die veterane-afdeling was Pierre Snyman tweede en Peppie van Tonder derde. Tiaan Coetzee het die junior afdeling gewen met sy broer Zak in die tweede plek. Tiaan is ook aangewys as die hengelaar wat die beste vordering in die seisoen gemaak het.
Juan van Tonder het met groot sukses as lid van die WP-meesterspan aan die SA kampioenskap deelgeneem en is met SAFOF-kleure beloon.
Die klub se eerste kompetisie vir die nuwe seisoen word op 17 Februarie gehou. Besonderhede sal later bekendgemaak word.





