Die Worcesteriet Wilmarie Pekeur is die landwye naaswenner in die Afrikaanse afdeling van die 2023- Avbob-gedig-kompetisie met haar roerende gedig “Onder die invloed van die dood”.
Die wenners van die 2023-Avbob-poësiekompetisie (een vir elk van Suid-Afrika se amptelike tale) is Woensdagaand 20 September aangekondig.
Carl van der Riet, uitvoerende hoof van Avbob, het die hoofrede gelewer waarin hy poësie beskryf het as ’n helende plek waar ons vertroosting vind, asook vernuwing en aanmoediging.
“Terwyl ons Erfenisdag op 24 September eer, vier ons Suid-Afrika se ryk en gevarieerde poëtiese tradisies. Ons is veral trots op hoe die Avbob-poësiekompetisie bydra tot ons land se kulturele erfenis in al 11 amptelike tale en dit verryk,” het hy gesê.
“Digters is van die begin af aangemoedig om werk in hul moedertaal in te dien. Ons is verheug om te sien 55% van alle gedigte wat vanjaar ingeskryf is, is in Suid-Afrika se volkstale geskryf,” het Van der Riet gedeel.
Hy het bygevoeg dat die Avbob- poësiebiblioteek nou nagenoeg 21 000 gedigte bevat, wat elk sy skrywer ’n gebruiksfooi van R300 laat verdien het.
Dit verteenwoordig ’n belegging van meer as R6,2 miljoen in gebruiksfooie, wat Suid-Afrikaanse digters ondersteun sedert die kompetisie ses jaar gelede – in 2017 – begin het.
Wilmarie is visueel gestremd en het by die Pionierskool in Worcester skoolgegaan. Hierna het sy administratiewe kursusse by die Hein Wagener-sentrum voltooi en ’n BA graad in kommunikasie deur Unisa verwerf. Tans is sy besig met haar honneursgraad in mediastudies.
En dit als terwyl sy ’n voltydse beroep as ontvangs- en skakelbord-beampte by Orbit Motors in Worcester het.
Wilmarie vertel dat sy as kind reeds van lees en skryf gehou het. Toe sy op hoërskool was, het sy besef wanneer sy opstelle skryf, maak dit iets in haar wakker en sy wil graag vir mense stories deur middel van haar skryfwerk vertel.
Wilmarie het in 2019 vir die befaamde skrywer Rachelle Greeff se jaarlange skryfskool in Wellington ingeskryf. Hier het Rachelle haar onder haar vlerk geneem en Wilmarie se ware skryftalent is so ontdek en aangemoedig.
Vandag skryf Wilmarie rubrieke vir verskeie publikasies, waaronder Rapport en Die Burger. Haar droom is om eendag ’n dig- en kortverhaalbundel te publiseer asook om betrokke te raak op ’n uitsaaiplatform soos SAUK om ’n groter gehoor met haar stories te bereik.
Wilmarie vertel haar naaswenner-gedig in die Avbob-kompetisie is uit haar hart geskryf. “
Onder die invloed van die dood” is geskryf nadat Wilmarie se broerskind skielik op 17-jarige ouderdom dood is.
“Dit was ’n vermoeiende tyd vir ons hele familie, en om oor die verdriet hieroor te skryf, was ’n manier vir my om met die dood vrede te probeer maak.
“Skryf is gewis ’n middel om jou emosies uit te beeld en terselfdertyd heling daardeur te vind.”
Haar raad aan ander mense met gestremdhede is om altyd 110% in plaas van “net 100%” te gee.
“Kry ’n passie en wees doelgerig. Ek word nog nie betaal vir my passie nie, maar dis juis die passie wat my motiveer om aan te hou. Solank ek myself verbeter in dit waarvan ek hou, sal ek altyd aanhou.”





