Wilfred Pheiffer (53) met sy aankoms in Swakopmund.


Die Worcesteriet Wilfred Pheiffer (53) het vandeesweek ná ’n lewensverrykende reis deur Namibië teruggekeer en deel vandag sy verhaal met Standard.

Pheiffer, wat as ’n voorman van parke by die Breedevallei-munisipaliteit werk, het in minder as twee weke sowat 3 300 km getoer, waarvan hy die meeste gestap of geryloop het. Hy het sowat 21 dorpe en bestemmings in dié kort tyd besoek.

Hy is ’n boorling van Botrivier en het sowat 17 jaar gelede na Worcester verhuis, waar hy sy groot liefde ontmoet het.

“Dit was die eerste keer dat ek in Namibië was en die eerste keer dat ek buite Suid-Afrika getoer het. Ek is gek oor reis en het al talle plekke in ons land besoek, maar het sowat twee maande gelede besluit ek wil Namibië sien. Ek het aansoek om verlof gedoen en die toer van Dinsdag 15 November tot Saterdag 26 November aangepak.”

Hy sê sy seun het hom by ’n vulstasie in die Swartlandstreek afgelaai en van daar af het hy al met die N7 langs tot in Windhoek gereis.

“Ek is van Windhoek af na Walvisbaai, omrede my uitgangspunt was om so ver as moontlik noord te reis. Ek wou kyk hoe ver ek in vier dae kon vorder, en dan al kuier-kuier terug te kom.”

Pheiffer het die toer alleen aangepak en wou die besondere skoonheid van die natuur in Suid-Afrika en Namibië eerstehands beleef.

“Dit was die wonderlikste ervaring nog. My verwagtinge is geheel en al oortref. Die mense was gaaf – ek het baie sulke vriendelike en behulpsame mense ontmoet. So baie mense het hul huise vir my oopgemaak, al het ek net ’n plekkie gesoek om my tent op te slaan.”

Hy vertel dat hierdie reis veral vir sy menswees baie belangrik was en dat hy homself ná ’n paar stresvolle maande wou gaan vind.

“Hierdie reis was vir my baie onbekend en ek moes my vertroue in die Here plaas. Ek is ook dankbaar vir my vriende en familie wat my bygestaan het, vir my gebid het en my met boodskappe op my pad bemoedig het.”

Pheiffer sê sy gunstelingoomblik was die oomblik toe hy die Oranjerivier oorgesteek het.

“Toe ek soontoe gestap het, was die rivier baie vlak en met die terugkomslag was hy in vloed. Dit was angswekkend, maar dit was wow gewees! Die gedonder van die water by die brug en die massas en massas water wat onderdeurvloei, was iets om te beleef,” vertel hy.

Baie mense wat hy op sy pad ontmoet het, het ’n groot indruk by hom gelaat.

“Ek het geweet en vertrou dat ek die regte mense, op die regte tyd, sou ontmoet en dat hulle my sou lei na waar ek moet wees. Die Here was weer eens baie goed vir my. Ek kon baie by ander leer en soveel van myself met hulle deel.”

Pheiffer vertel hy het nog altyd ’n groot liefde en passie vir die natuur en hy en sy vrou het ’n jeugklub in Worcester gestig om jongmense van die omgewing bewus te maak.

“Ons wil hulle inspireer en wys wat anderkant die berge lê. Ons het gevind wanneer ons die jeug se horisonne verbreed, hoe meer groei hul ambisies en drome.

“Ons het dit in 2014 gestig en gaan volstoom voort. Dit is wonderlik om te sien hoe hulle leer en hoe hulle hul vrese oorkom,” vertel hy.

Hy beveel hierdie reis vir enigiemand aan.

“Om jouself te gaan soek en te vind verg dat jy buite jou gewone moet klim. Jy moet die wye wêreld invaar.”

Pheiffer beoog om eendag sy vrou saam te neem en weer hierdie roete te volg. Hy wil graag vir haar ook die plekke wys wat so groot indruk by hom gelaat het en haar aan die mense wat hy op sy pad ontmoet het, voorstel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article