Sommige van die motorfietsryers met van die bra’s by een van die stilhouplekke op die roete.Foto: Order of The Dragon MC


Meer as 50 motorfietsryers het Sondag (22 Oktober) bymekaargekom om nuwe en goeie gebruikte bra’s in te samel vir die “I Love Boobies”-maatskappy sonder winsbejag (NPC), wat hulself beywer vir die bewusmaking van borskanker.

Die plaaslike motorfietsklub “Order of The Dragon MC” het die geleentheid gereël en is ondersteun deur verskeie ander motorfietsryers, -klubs en groepe soos The Solitude’s MCC Worcester, Beavers Boland, The Clique MCC, The Reapers MCC Worcester, Skuimpense, Roads End Riders en HarleyHaven SA.

Die motorfietsryers het by Engen Mountain Mill Mall bymekaargekom, waar die ryers bra’s oral op hul motorfietse vasgemaak asook aangetrek het. Van daar het hulle op die N1 vertrek en deur Rawsonville, verby Nekkies en terug na Worcester gery, waarna hulle in ’n stadige optog deur Hoogstraat gery het en by Kleinplasie, waar die versamelingspunt was, geëindig het. Hulle het altesame 220 bra’s ingesamel en aan Worcester Radiologie oorhandig wat die bra’s na I Love Boobies sal stuur, wat dit op hul beurt aan behoeftige vroue wat deur borskanker geraak is, sal gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article