’n Rugby-skeidsregter is behoorlik in die spervuur ná ’n uiters kontroversiële besluit in ’n belangrike klubrugbywedstryd wat Saterdag in Robertson plaasgevind het.
Robertson Rangers en Worcester Villagers het op die Van Zylstraat-sportterrein in Robertson mekaar gepak.
Groot konsternasie oor die eindtelling van ’n wedstryd tussen twee mededingende Boland-rugbyspanne het glo gelei tot die strafregtelike klagte wat teen die skeidsregter by die polisie ingedien is.
In die doodsnikke van die wedstryd het Villas oorgegaan vir ’n drie wat die telling op 35-36 gebring het, met Robertson wat met slegs een punt voor was.
’n Suksesvolle doelskop deur Villas sou die wedstryd vir hulle beklink het, maar na bewering het Villas se skopper te lank gevat om die bal oor te klink en toe hy dit wel doen, het die skeidsregter nie die punte toegelaat nie.
Robertson was dus oortuig dat hulle met 36-35 gewen het, terwyl Villas glo hulle is die wenspan met 37-36. En boonop het die skeidsregter albei punte afgeteken.
Die konsternasie oor die toelating van punte ná ’n skop deur die Worcester Villagers se losskakel, Ambrose Steyn, het dié span hom na die polisie laat wend.
Maar volgens die tuisspan het die skeidsregter reeds voordat die bal oorgeskop is, die fluitjie geblaas, omrede Steyn glo te lank geneem het om die bal te skop.
Die grensregters het egter die skop geldig verklaar.
Hierna het die twee spanne albei geglo hulle het gewen, elk met ’n punt.
Luidens die Villagers se verklaring, wat onder die opskrif “Oor vandag se hoofwedstryd, die verwarring en eindtelling” op sosiale media geplaas is, het hulle ’n “goeie en spannende wedstryd” teen die tuisspan gespeel, wat “in goeie gees was”.
“Maar met speeltyd reeds verstreke, is die wedstryd ontsier deur die blatante en onbesonne optrede van die man in die middel.
“Dit mag wees dat die Robertson Rangers die eindtelling van 36-35 in hul guns het, maar ons hou by die eindtelling van 37-36 in die guns van Worcester Villagers, soos in ons wedstrydverslag wat deur die betrokke fluitjieblaser onderteken is,” lui die verklaring.
Na afloop van die wedstryd het die Villagers ’n klagte van wedstrydknoeiery en bedrog teen die betrokke skeidsregter by Robertson se polisie ingedien.
Villagers het vandeesweek ’n amptelike dispuut hieroor aangeteken by Boland Rugby weens die twee verskillende eindtellings.
Villagers se volledige verslag oor die gebeure asook bewyse daarvan is aan Boland Rugby gestuur en sal nou verder ondersoek word.
Albei klubs het dit duidelik gestel dat hierdie voorval nie verhoudinge tussen Worcester Villagers en Robertson Rangers versuur nie en dat hul verhouding van wedersydse respek en sportmanskap ongeskonde bly.
Die president van die Boland-rugbyunie, Bennie van Rooi, het gesê die unie sal die voorval ondersoek en eers na afloop daarvan kommentaar lewer.



