President Cyril Ramaphosa het vroeër vanjaar die wet vir dagga vir private gebruik afgeteken.
Volgens die Staatskoerantwat op 3 Junie op die regering se webtuiste geplaas is, het die wet ten doel om: . die reg op die privaatheid van ’n volwassene om dagga te gebruik of te besit, te respekteer; . die gebruik of besit van dagga deur ’n volwassene te reguleer; . voorsiening te maak vir ’n alternatiewe manier om die kwessie van die verbode gebruik, besit van of handel in dagga deur kinders aan te pak, met inagneming van die beste belang van die kind; . die handel in dagga te verbied; . voorsiening te maak vir die verwydering van misdaadrekords van mense wat skuldig bevind is aan die besit of gebruik van dagga of handel in dagga op grond van ’n vermoede; . bepalings van sekere wette te wysig; en. voorsiening te maak vir aangeleenthede wat daarmee verband hou.
Die volgende reëls vir die besit van dagga deur ’n volwassene word soos volg in die Staatskoerantuiteengesit:. ’n Volwassene mag dagga gebruik of in die besit wees daarvan;. Sonder die uitruil van vergoeding per geleentheid verskaf aan, of verkry van, ’n ander volwassene in ’n private plek vir ’n private doel;. Geen dagga mag in of op private eiendom gebruik word as kinders onder die ouderdom van 18 teenwoordig is nie. Diegene wat dit gebruik, mag dit net ’n ent weg van vensters, deure, ventilasie-inlate en die ingang na plekke doen. Dit mag ook nie in openbare plekke gebruik word waar groepe mense bymekaar kom waar die rook ’n steurnis vir ander nie-gebruikers kan veroorsaak nie.
’n Volwassene mag wel dagga in ’n openbare ruimte hê, mits dit nie in die openbaar gebruik word nie. Mense wat nie aan die voorgeskrewe wette en toegelate hoeveelhede voldoen nie, kan in hegtenis geneem en vervolg word.
Die Staatskoerantverduidelik enigiemand wat in dagga handel dryf, is skuldig aan ’n oortreding en is by skuldigbevinding strafbaar met ’n boete of gevangenisstraf vir ’n tydperk nie langer as tien jaar nie, of met albei.
’n Volwassene kan ook vervolg word as hulle ’n minderjarige kind opsetlik dagga laat gebruik. ’n Boete of tronkstraf van nie langer as twaalf jaar nie kan opgelê word, of albei. Dieselfde geld ’n volwassene wat ’n minderjarige gebruik om in dagga handel te dryf of dagga vir ’n kind ingee.
Enigiemand wat op enige plek in die besit van dagga is, moet daarvan seker maak om dit op ’n veilige plek te bêre – buite die bereik van kinders. Indien versuim word om dit te doen, kan die individu ’n boete van tot R2 000 opgelê word.
Selfs iemand met meer as die voorgeskrewe hoeveelheid dagga, hetsy in ’n private plek of in die openbaar, kan skuldig bevind word aan ’n oortreding en kan beboet of gevangenisstraf opgelê word. Dieselfde geld iemand wat meer as die voorgeskrewe hoeveelheid by ’n private eiendom kweek. So iemand kan dan ’n boete kry of tot vyf jaar tronk toe gestuur word. As iemand meer dagga vervoer as die toegelate voorgeskrewe hoeveelheid, kan hulle ook aanspreeklik gehou word en kan ’n boete van tot R2 000 of tronkstraf van tot vyf jaar opgelê word. Iemand wat dagga in ’n voertuig op ’n openbare pad gebruik, kan tot R2 000 beboet word. Dieselfde geld vir passasiers.
Die Staatskoerantmaak ook melding van die uitwissing van misdaadrekords van iemand wat skuldig bevind is aan die besit of gebruik van of handel in dagga op grond van ’n vermoede. Diegene wat op dagga-verwante klagtes in hegtenis geneem is, moet skriftelike aansoeke om die uitwissing van hul misdaadrekord aan die direkteur-generaal rig, wat dit dan sal nasien voordat besluit word op verdere optrede.
Die vorige wette oor dagga is gewysig om die inligting in hierdie Staatskoerantvoortaan te reflekteer.
Ingevolge die wet is die voorgeskrewe hoeveelhede wat ’n volwassene mag besit, soos volg:
– Onbeperkte sade en saailinge vir private kweking;
– Vier bloeiende (blommende) daggaplante of dagga-ekwivalent van een plant per volwassene in ’n openbare ruimte;
– Private besit van 100 gram gedroogde dagga of dagga-ekwivalent in ’n openbare ruimte;
– Private besit van 600 gram gedroogde dagga of dagga-ekwivalent per volwassene in ’n private ruimte.





