Die Wes-Kaap is in die beste posisie uit al nege provinsies wanneer dit by basiese dienslewering aan huishoudings kom.
StatsSA het pas die uitslag van sy jongste algemene huishoudelike opname bekend gemaak. Die peiling het gehandel oor die lewering van basiese huishoudelike dienste en het verskeie vereistes gemeet.
“Vergeleke met die res van Suid-Afrika vaar die Wes-Kaap baie goed op die gebied van die verskaffing van basiese dienste aan huishoudings, maar ons weet ons het nog meer om te doen. Dit is omdat ons die maatskaplike uitdagings in die gesig staar wat deur ’n stadig groeiende nasionale ekonomie meegebring word,” sê Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, in reaksie op dié jongste uitslae van StatsSA.
Volgens die opname is die Wes-Kaap nie net die nommereenprovinsie in Suid-Afrika met basiese dienslewering nie, maar ook met infrastruktuur:
- 99,4% van Wes-Kaapse huishoudings het toegang tot pyp- of kraanwater in vergelyking met 88,7% van huishoudings in Suid-Afrika. Ook het minder as 4,9% van Wes-Kaapse huishoudings wateronderbrekings aangemeld teenoor die nasionale gemiddelde van 30,8%.
- 94,5% van Wes-Kaapse huishoudings se toegang tot sanitasie het verbeter, teenoor 84,1% nasionaal. Daarbenewens het 94,8% van Wes-Kaapse huishoudings toegang tot spoeltoilette teenoor die nasionale syfer van 64,8%.
- In die Wes-Kaap kry 89,4% van huishoudings minstens een keer per week vullisverwydering, vergeleke met die 60,3% op nasionale vlak.
- 95,1% van Wes-Kaapse huishoudings is aan die hoofkragtoevoer gekoppel. Slegs Limpopo, met ’n aansluitingsyfer van 96,9%, is beter. Die nasionale persentasie is 89,3%.
- Die Wes-Kaap loop voor met internettoegang met 89,1% van huishoudings, vergeleke met die nasionale gemiddelde van 77,5%.
Bredell sê hierdie prestasie word teen die agtergrond van ’n vinnig groeiende bevolking behaal.
Die Wes-Kaap se bevolking het van 4 756 000 mense in 2002 tot 7 091 000 in 2021 gegroei.
“Ons ervaar ’n bevolkingsgroei in die Wes-Kaap van meer as 100 000 mense elke jaar. Dit plaas enorme druk op ons vermoë om basiese dienste te lewer,” sê Bredell.
“Die feit dat die Wes-Kaap aanhou om beter as die res van die land te vaar, getuig van die harde werk wat die Wes-Kaapse regering en ons munisipaliteite nou al langer as ’n dekade doen.”
Bredell sê egter daar is nog baie werk om te doen. “Krane, toilette en elektrisiteitsverbindings is een ding, maar die gehalte en betroubaarheid van die diens wat dit lewer, is iets anders. Ons werk as verantwoordelike regering voortdurend daaraan om dienslewering aan ons inwoners te verbeter. In ruil daarvoor vra ons mense om verantwoordelik op te tree. Gebruik water asseblief spaarsamig en maak net van wettige elektrisiteitsverbindings gebruik.”





