’n Vragmotor met ongeveer 40 plaaswerkers was verlede week in ’n voorval in die Nuy-omgewing betrokke.

Die Worcester-polisie het die voorval bevestig en gesê die ongeluk het Dinsdag 9 Augustus omstreeks 17:30 gebeur.

Adjudant-offisier Vathiswa Jacobs het gesê die voorval was op die Toontjiesrivier-pad, net voor die hek van Nuwe Begin-boerdery.

Volgens inligting was geen ander voertuig betrokke nie.

Die polisie sê die vragmotor en werkers is van die Leipzig-plaas in die Nuy-omgewing.

“Ek dra nie eens kennis van so ’n voorval nie. Ons sou gewis geweet het,” het een van die werknemers aan Standard gesê.

Amanda Rabie van Rabiesberg-boerdery, die boerdery-komponent van Leipzig, sê dit was nie hul werkers of personeel wat in die ongeluk betrokke was nie, maar dié van ’n kontrakteur.

Sampie Stapelberg, ’n kontrakteur en die eienaar van die vragmotor, sê die werkers ry sitrus van die Rabiesberg-plaas tot in Robertson aan.

“Die ongeluk het wel gebeur. Hulle werk al ’n ruk aan daardie pad (grondpad). Die voertuig het op die pad gegly en toe omgekantel,” verduidelik hy.

Hy sê hoewel 23 mense in dié ongeluk beseer is, is almal uit die hospitaal ontslaan en hulle werk weer.

“Ek wil ook my dank uitspreek aan die polisie en ambulansdienste vir hul vinnige optrede en bystand,” het Stapelberg gesê.

Een van die werkers op ’n nabye plaas, wat op voorwaarde van anonimiteit met Standard praat, sê die ongeluk het “so vinnig” gebeur.

“Ek het in die verte gesien die voertuig ry. Dit was nie asof hy gejaag het nie, maar ewe skielik toe hoor jy net ’n slag. Dis maar al wat ons gesien het.”

Standard het in Julie vanjaar berig oor die druk wat die DA op wetgewing, spesifiek met betrekking tot plaaswerkers en die vervoer van personeel op plase, wil uitoefen.

Die DA het gesê dit is duidelik ’n prioriteit, aangesien ongelukke voorkom kan word as die wet hersien word en die reëls strenger toegepas word.

Die polisie het bevestig die ongeluk is aangemeld en die omstandighede word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article