Verskeie dele van die Breedevallei ondervind nou al lank waterverwante probleme.
Veral De Doorns se inwoners het onder dié waterprobleme gely.
Volgens John Bulani, ’n woordvoerder vir die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), is verlede maand aangekondig ’n afname in watervoorsiening kan tussen 3 en 7 Junie in die Hexvallei verwag word.
“Die Hexvallei-waterverbruikersvereniging het die BVM op 22 Mei in kennis gestel van ’n afname in rou watervoorsiening van 3 tot 17 Junie. Gedurende die genoemde tydperk sou hulle die inskakeling van die nuwe toevoerlyn wat benodig word deur die Hexrivier doen. Die toevoer van rou water na die BVM-watersuiweringswerke is met 50% verminder en gevolglik kon die BVM net die helfte van die volume water ontvang, behandel en versprei,” verduidelik Bulani.
Die munisipaliteit het egter verlede Vrydag laat weet dat die werk langer as verwag sal duur om voltooi te word.
“Op 14 Junie het die Hexvallei-waterverbruikersvereniging ons meegedeel dat die verwagte voltooiing weens probleme met die vervanging van die pyp tot 20 Junie verleng is.
“Die BVM het ’n 35 000-liter-watertenkwa by die De Doorns-brandweerstasie beskikbaar gestel, sowel as ’n 5 000-liter-tenk wat ander gebiede bedien,” sê Bulani,
Watertoevoer na die Fairway Heights- en Panorama-gebiede is ook vandeesweek afgesny.
“ ’n Foutiewe klep is op die netwerk geïdentifiseer wat tans die suksesvolle isolasie van die spesifieke area inhibeer om die vervanging van ’n gedeelte van die waterhooftoevoer te voltooi. Dit is dus nodig om ’n uitgebreide gedeelte van die waternetwerk tydelik af te sluit om hierdie deel te isoleer en die foutiewe klep te vervang. Die vervanging van hierdie klep sal makliker bestuur van die waternetwerk sowel as veiliger watervoorsiening in die toekoms moontlik maak.”
Watergebruikers in Rawsonville is ook verlede week ingelig oor hoe die onlangse reënval die gehalte van hul water beïnvloed het.
“Die Stettynskloofdam het op 12 Junie ’n swaar reënbui van 40 mm ontvang, wat grond en plantmateriaal in die dam laat spoel het. Die rou water wat die behandelingswerke binnegaan, is baie troebel. Die BVM het geen behandelingsprosesse om die geel en/of bruin kleur uit die water te verwyder nie. Die inwoners word gewaarsku om van môre [13 Junie, verlede Donderdag] af verkleuring van die kraanwater te verwag. Die water word gechloreer en is veilig om te drink,” lui die Facebook-inskrywing.
Die munisipaliteit het die gemeenskap deurlopend deur middel van hul Facebook-blad en WhatsApp op hoogte van sake gehou.





